20 jaar langs die skoolhoof — Lani Schlechter

Lani Schlechter, sekretaresse, linker- en regterhand van Laerskool Ellisras se skoolhoof, Gustav Grobler, is in Kuruman in die Noordkaap gebore. Sy bly egter reeds langer in die Bosveld as wat sy op enige ander plek in die land gebly het en haar kantoor by die Rassies is reeds vir die afgelope 20 jaar haar ander huis.

Sy sê die Bosveld is haar hartsplek, maar die Kalahari met sy rooi sandduine en kameeldoringbome sal altyd in haar are vloei. “Dit is my geboortegrond en die plek waar ek my eerste lewenslig aanskou het.

Dit was my begin …’” sê sy.

Lani was die eerste beheerliggaamaan-stelling toe sy in 2000 by Laerskool Ellisras begin werk het.
 Vir haar is die lekkerste deel van haar werk om haar opdragte elke dag met vreugde uit te voer. Sy beskryf haarself as ’n “pleaser” wat daarvan hou as die mense om haar gelukkig is. Ander dinge wat haar hart laat sing is die besoeke van kinders by die kantoor en om elkeen se storie – mooi of verdrietig – aan te hoor. En natuurlik die skoolvakansies …

“Ek is deel van ’n ongelooflike span – onthou ek is al deel van die meubels! Mens kan nie regtig beplan nie want elke dag verloop anders. Geen twee dae was nog ooit dieselfde nie, daar is geen vervelige oomblik nie. Die kinders kruip diep in jou hart en ouers se dankbaarheid maak elke dag die moeite werd.”

Die slegste deel van haar werk is om kinders en ouers se hartseer te moet deel. “Ek het baie ouers en kinders begrawe in dié 20 jaar – asook my vriendin en kollega Annie. Dit is ook sleg as personeel en kinders die skool verlaat – mens raak geheg aan hulle”.

Lani het deur die jare geleer dat niemand onvervangbaar is nie. “Vandag is jou laaste dag en môre is jou plekkie gevul. Niemand gaan vir jou ’n standbeeld bou nie, maar wees trots en dankbaar dat jy ’n werk het. Geniet jou werk. Maak ’n verskil. Daar is baie dankbare mense in die samelewing en maak dankbaarheid deel van jou daaglikse bestaan. Lewe en laat lewe. Wees toegewyd en bedagsaam. Tel jou woorde. Gee komplimente. Waardeer wat jy het en bid sonder ophou”.

As sekretaresse van die skoolhoof dink Lani ’n skoolhoof het ’n baie uitdagende rol.

“Dit is nie die maklikste stoel om in te sit nie en die hoof kan vir seker nie almal tevrede stel nie.

Die ondersteuning van ouers en personeel is belangrik. Dit is soos ’n ratkas wat goed geolie is en al die ratte werk mooi saam, ’n Skoolhoof se geduld word daagliks beproef en daarom is ’n goeie humorsin noodsaaklik!”

Lani is ook die skool se koshuishoof en tree op as skakel tussen die skool, koshuis en ouers. Sy is passievol oor die koshuis en sê sy sal graag die koshuis propvol kinders wil sien, want hulle bly in ’n veilige omgewing en daar is ’n huislike atmosfeer. Dissipline en roetine is belangrik want dit gee vir kinders stabiliteit.

Is 20 lank genoeg sodat jy genoeg weet en ander moet leer? “Ek dink nie ’n mens hou ooit op met leer nie, maar die jonges kan gerus meer na die ouer garde luister. Respek is altyd ’n prioriteit.
 “Ek wil vir die gemeenskap sê om mekaar op te bou en nie af te breek en te verniel nie. Die belangrikste eienskappe wat jy moet hê om met mense te kan werk is positiwiteit, geduld, empatie, konsekwentheid, behulpsaamheid en komplimenteer eerder as kritiseer,” sê sy. Wetteloosheid, moedswilligheid en rommelstrooi maak haar moedeloos, maar haar kinders, almal wat vir haar lief is en die toekoms maak haar opgewonde.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.