2de plaasaanval op Oversprong

VAALWATER/MELKRIVIER — Berdus Henrico (38) en sy vriendin, Estelle Nieuwenhuys (51) is Dinsdagaand 6 Februarie omstreeks 20:00 deur drie verdagtes op die plaas Oversprong, sowat 40 km buite Vaalwater op die Melkrivierpad, oorval en geskiet.
Volgens Polisie is die agterdeur oopgebreek om toegang tot die huis te kry. Drie 9 mm-pistooldoppies is op die toneel gekry. Volgens ʼn mediaverklaring uitgereik deur WASPS, het die derde verdagte Henrico drie keer geskiet en Estelle is skrams getref. Haar arm is tydens ʼn stoeiery gebreek. Berdus is in die skouer geskiet. Dit is Woensdagoggend bevestig dat Berdus na ʼn hospitaal in Polokwane oorgeplaas is en twee koeëls is uit sy skouer verwyder. Skrapnelwonde aan sy nek en kop is reeds in Modimolle versorg en toegewerk. Volgens die verklaring het die verdagtes ʼn .243-jaggeweer teen Henrico se kop gedruk maar gesukkel met die Grendel. Hulle het gevlug en is vermoedelik deur ʼn voertuig opgelaai.
Lede van Dorset SAPD, HPG en die Vaalwater en Melkriviergemeenskap was vinnig op die toneel om hulp te verleen. Teen druktyd was die soektog na die drie verdagtes steeds aan die gang met twee helikopters in die lug.
Die verdagtes het gevlug met twee haelgewere, ʼn .234-jaggeweer, twee selfone en ʼn TV.
Chrisna Henrico-Van der Merwe het Woensdagoggend op haar Facebookmuur geskryf: Update van my boetie: Hy is stabiel. Hulle is op pad Polokwane toe vir ʼn CT scan. Twee bullets in sy skouer wat later verwyder sal word. Sy verloofde is by hom. Sy het net ’n skrams koeëlwond. Dankie Estelle Nieuwenhuys vir jou wat by hom is en ondersteun. Baie dankie vir almal se ondersteuning.
In 2015 is die bejaarde dr. George Meyer en sy verloofde, Tersia Prinsloo ook deur twee aanvallers op die plaas Oversprong aangeval. Die verdagtes is later gearresteer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.