3 vas na jaagtog

Hlako James Ralubuvhi

LEPHALALE — Drie verdagtes is Saterdag 20 Julie omstreeks 23:30 op die R33 (nuwe Vaalwaterpad) gearresteer nadat hulle met ʼn hoë spoed vir die polisie weggejaag het.

Josaphat Amos Ngobeni

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden van die SAPD se eenheid vir bedreigde spesies, het hulle Saterdagaand omstreeks 22:00 inligting van informante ontvang dat daar moontlike renosterstropers op pad is in rigting Lephalale.

Sam Ngobeni

Hulle het omstreeks 23:00 uitgery op die R33 en ʼn padblokkade naby die Witkoppadafdraai opgerig. Na ʼn ruk het ʼn wit Opel Astra met registrasienommer HZF 844 NW vanaf rigting Vaalwater aangekom en die voertuig is gestop, maar die bestuurder het weer weggetrek en teen ʼn hoë spoed verder gery. Hulle is weer agternagesit en sowat 30 km uit die dorp uiteindelik van die pad af gedwing.
 Volgens ao Van Heerden was daar drie verdagtes in die voertuig asook ʼn byl en ʼn knaldemper. Daar was geen vuurwapen in die kar nie en die omgewing is gefynkam. Teen 16:00 die middag het een van die verdagtes ingestem om uitwysings te gaan doen waar hulle die wapen uit die kar gegooi het, maar die wapen kon steeds nie gevind word nie.

“Ons het Maandagoggend 08:00 weer gaan soek en die .458 CZ sowat 2 km van die Witkopafdraai in die veld sien lê. Die nommer was afgevyl en die wapen was in twee stukke. Daar was geen rondtes in sig nie,” sê ao Van Heerden.

Hy sê die inligting oor die verdagtes en dat hulle op pad was om renosters te stroop is van die begin af vir sowat ʼn week hanteer deur lede van Welgevonden Reaction, Quemic Shambala en die SAPD se eenheid vir bedreigde spesies.

Die lede van die Heritage Protection Group (HPG) asook die plaaslike boere wat gehelp het om die wapen op te spoor en die area te vee word van harte bedank vir hulle hulp.

Sake van sameswering, die onwettige besit van ʼn gevaarlike wapen en moontlike renosterstropery is teen die drie verdagtes geopen by Lephalale SAPS.

Hulle het Dinsdag in die Landdroshof in Lephalale verskyn en die saak is uitgestel tot 29 Julie vir borgaansoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.