4de inbraakpoging — geen arrestasies

LEPHALALE — George en Desire Cloete is keelvol. Boosdoeners het in die laaste twee maande vier keer probeer om by hulle huis in Hermanstraat in te breek.

‘n Gat in die muur verduidelik hoe die verdagtes toegang tot die erf gekry het


Die eerste poging was Maandag 18 Maart om ongeveer 01:00 die oggend. Die verdagtes het reeds hulle agterdeur en veiligheidshek oopgebreek toe George niksvermoedend kombuis toe is om water te kry. Net voor dit het hy die honde uitgeneem. George het gesien die agterdeur staan oop en het gedink dit is Desire wat vergeet het om dit toe te maak, maar by nadere ondersoek het hy gesien beide deure is oopgebreek. Die polisie is ontbied maar die inbrekers het weggekom.

Die deure is dieselfde dag herstel.

Toe die krag Woensdagoggend 20 Maart om ongeveer 01:00 afgaan het Desire veraf ʼn alarm gehoor en gesien daar is aan die lapa se deur gepeuter. Die alarm moes die vermeende inbrekers laat skrik het en hulle het weggekom.

Die derde poging tot inbraak was Donderdagnag 18 April. Volgens Desire het George wakker geword van lig wat in sy oë skyn en toe hy opkyk staan ʼn man by die venster vir hulle en kyk. Die lig het in die kamer ingekom omdat die oortreder die gordyn weggetrek het.

Die verdagte het dadelik die hasepad gekies en Desire sê hulle kon hoor hoe blaf die honde laer af in die straat soos hy weggehardloop het. Weer eens is niemand gearresteer nie. Desire praat met groot lof van die sekuriteitsmaatskappy wat binne drie minute by die toneel opgedaag het.

Die vierde voorval was Saterdagoggend omstreeks 04:00. Desire het wakker geword want sy het iets gehoor in die huis. Sy het die veiligheidshek in die gang gesluit en die lig aangesit en gesien hoe twee mans besig is om die diefwering van ʼn venster in die sitkamer te probeer uithaal. Sy het geskree en hulle het weggehardloop. Sy sê dié keer het hulle een van haar tuinstoele gevat om by die venster by te kom en ʼn hele stuk van hulle baksteenmuur is uitgebreek om toegang tot die erf te kry. Die twee verdagtes het weer eens weggekom.

Desire sê dit is vir hulle onverklaarbaar hoekom die boosdoeners so graag by hulle wil inbreek aangesien daar niks geld of enige waardevolle items in hulle huis is nie.

Adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Klusterwoordvoerder, sê inbrake het geweldig toegeneem oor die laaste twee maande en inwoners moet bewus wees van hulle bure se bewegings en alle verdagte optrede of persone moet onmiddellik aangemeld word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.