Alles tot as in minute

LEPHALALE — Russell en Viola Sadler en hulle drie kinders se huis, sowat 5 km uit Lephalale op die Markenpad, het Sondag 3 Junie heeltemal afgebrand. Die gesin het alles verloor.

Volgens Russell was hulle Sondag by die kerk en omstreeks 12:00 het hulle oudergewoonte ʼn vleisie op die kole gegooi.

Om ongeveer 14:00 is Russell en sy twee seuns na Mogolklub waar hulle saam met ander pa’s en seuns krieket gespeel het. Viola en haar dogter is na die perdekamp. Russell sê hy en die seuns was op pad na Viola en die dogters by die perdekamp toe ʼn vriend hom rondom 16:20 bel en sê hulle huis brand. “Om 16:45 was alles weg,” sê Russell. Hy kon Viola aanvanklik nie in die hande kry nie en alles was reeds weg toe sy by die huis kom.

Volgens van die bure het mans, vrouens en kinders ingespring en emmers water uit die swembad geskep om die brand te probeer blus. “As gevolg van die diefwering aan die buitekant kon ons nie die vensters breek om toegang tot die huis te kry nie. Ons het letterlik staan en kyk hoe die huis afbrand en dit was so ongelooflik warm, mens kon eintlik niks doen nie,” sê ʼn buurvrou. Die brandweer het om 16:30 opgedaag nadat hulle na bewering eers verskeie kere die telefoon doodgedruk het. Volgens inligting was hulle watertenk blykbaar ook net halfvol en het hulle nie genoeg water gehad nie.

Russell sê hulle kon darem die kluis met gewere uit die hoofslaapkamer red.

“Dit is die dinge wat vir jou sentimentele waarde het wat vir ons die ergste is. Ons het die huis kontant gebou, stukkie vir stukkie en alles was nou net mooi reg soos ons dit wou gehad het. Mens verstaan nie waarom so-iets gebeur nie,” sê Russell.

Teen druktyd was die oorsaak van die brand onbekend en forensiese deskundiges sou later in die week begin met ʼn ondersoek.

Russell het vir Mogol Pos gesê hulle weet nie hoe om die gemeenskap te bedank vir alles wat hulle tot dusver ontvang het nie. “Mense het geld in Viola en iemand anders se rekeninge inbetaal, hier het mense opgedaag wat ek nie eers ken nie, wat vir ons klere en kos gebring het. Die bure gee vir ons blyplek. Ek weet nie hoe om dankie te sê nie,” het hy gesê.

Viola het op haar Facebook-blad gesê: “Dankie Here my beste besittings is gespaar. My man en kinders. Dankie aan elkeen wat gehelp het en nog steeds daar is … ons waardeer dit uit ons harte. Kan nie genoeg dankie sê vir die gemeenskap”.

Skakel Sonette Coetzer van die GPF by 079 524 0767 vir meer inligting rondom hulp vir die Sadler-gesin.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.