André is ʼn yster

LEPHALALE — Die parkrun het wêreldwyd vinnig vlamgevat en menige parkrunners tree elke Saterdag aan vir die 5 km hardloop, stap of draf.

André Stevens, ook bekend as Meneer parkrun

Mogol parkrun, die eerste parkrun in Limpopo, het op ʼn bibberkoue oggend van 14 Junie 2014 begin by Mogolklub se gholfbaan met die bekende marathonatleet, Bruce Fordyce, wat die parkrunners met sy teenwoordigheid vereer het.

André Stevens, wat reeds deur mededeelnemers as Meneer parkrun gedoop is, was Saterdag, 13 April, die ster van die dag. Nie net het hy sy eerste mylpaal van 250 Mogolparkruns behaal nie, maar is ook die eerste persoon in die Limpopo-provinsie wat dit kon regkry. André, wat vanjaar 57 jaar oud word, sê dat hy vir gesondheidsredes begin het en hy kyk nie terug nie. In die proses het hy sommer gewig verloor en wonderlike vriende gemaak. Hy sê dit is terapie vir die siel, want daar word sommer diep sake ook gesels – met jouself en dié wat saam stap.

Salome Davel, werksaam by Pam Golding Eiendomme en Louise van Vliet van Laerskool Ellisras, het Saterdag albei hul 50ste parkrun voltooi en hulle is dit eens dat dit help met fiksheid.  

Dit is ook heerlik om vroegoggende die parkrun saam met jou gesin en vriende mee te maak.

Dit is gratis om deel te neem aan die parkrun, al wat jy moet doen is om aanlyn te registreer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.