Baltimore bymekaargekom ter bewusmaking van plaasaanvalle en -moorde.

Net meer as ʼn halfjaar gelede was dit inbrekers, kapers, medici en verpleegkundiges wat gemasker was. Met die koms van Covid-19 is ons almal tans verplig om ʼn masker in die openbaar te dra.

Sê die maskers wat ons dra iets oor ons verskillende persoonlikhede in hierdie tyd wat ons soos skimme (moet) lyk?

Die artistiese
Hoe kan jy ʼn Vladimir Tretchikoff-masker wat pas by jou Tretchikoff-strooikussings weerstaan?

Die spaarsamige
Prys is belangrik en dis nog beter as ʼn masker alkantselfkant is. Wasbaarheid is ʼn vereiste.

Die vrolike
Lap met sonneblomme of reënboogtema kikker die lewe op.

Die grappige
Die Simpsons of Mr Bean gee lag vir die dag, maar teen vanmiddag wil niemand meer teen ʼn gesig op die masker vaskyk wat nie harmonieer met afgematte oë nie.

Die beskeie
Die masker en dié mens is beide onopsigtelik, so velkleurig as moontlik.
Die opstandige
“Geen regering sal vir my voorskryf wat om te doen nie, daar is vryheid van keuse en beweging.”
Die praktiese
Die masker is ʼn neutrale kleur soos grys en pas by alle klere en geleenthede van kruideniersware koop tot inrykerk toe gaan.
Die oorversigtige
ʼn Masker is nie voldoende nie. Gebuffer van kuiltjie tot by die oogsakke.
Die ‘kanniewarrie’
“So kom ons om, so kom ons om, want ons almal is net een dood skuldig.”
Die bygelowige
Hulle is so bedrywig om boodskappe te tik en fopnuus oor samesweringsteorieë te deel van G5, G20, illuminatie, skyfiemerkers en die merk van die dier dat ander die inkopies en werk doen. Masker dra is nie nodig as jy nêrens gaan nie, behalwe as jy Facebook besoek.
Die nuusaandraende
Loerbroer kyk vir jou. “As ek ʼn masker moet dra, moet almal.”
Die smouserige
Bestel ʼn boks vol en verkoop vinnig aan vriende, familie en kollegas teen ʼn eenheidsprys wat die totale verkope op elf keer die boksprys bring. Vir eie gebruik word ʼn ou skoolserp sommer vasgebind.
Die perfeksionistiese
Te dun, te dik, te groot, te breed, te smal, te donker, te helder, te hard, te ongemaklik. Daar word na baie maande – met nog bietjie te dit en bietjie te dat – nog gesoek vir die regte masker.
Die sedige
Een van Salomo se Spreuke word vir die beswil van die res se saligheid gedra.
Die koopgierige
Maskers is orals in kaste en laaie by die huis en op kantoor. ʼn “Mooi” masker vra om gekoop te word en die prys is irrelevant.
Die modebewuste
Die masker pas by die klere, skoene, oorkrabbe en/of das.
Die angstige
“Help, ek kry nie gemuilband asem nie.”
Die kulkunstige
Die idee van masker dra is daar, maar o weë, die ding sit onder die ken en word selde reggeskuif. Niemand kla iemand wat gedeeltelik gemasker is aan nie, al sit die masker op die verkeerde plek.
Die selfdoenige
Vir die handvaardiges lê die plesier in ʼn selfgemaakte langbeen gehekelde masker met ʼn pikante gehekelde rosie as versiering.
Die funksionele
ʼn Masker met ʼn lugfiltertjie aan die kant maak uitasem minder bedompig en laat blykbaar nie brille opwasem nie.
Die konvensionele
Bekostigbare ligte papiermaskers waardeur maklik asemgehaal word en wat weggegooi word na dit gebruik is.

Die mense wat egter die swaarste kry, is die met te min ore vir ʼn masker, gehoorapparate en bril, want ore is volgens die ou gesegde mos nie oornamente nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.