Beeldhouwenners!

Nelius Grieshaber het A++ gekry by die Eisteddfod

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se Departement Visuele Kunste het vanjaar vir die eerste keer aan die Pretoria Eisteddfod vir Beeldende Kunste deelgeneem en baie goed gevaar. Die Eisteddfod vind sedert 1923 jaarliks plaas.

Met meer as duisend inskrywings vir 2019 en skole van reg oor die land wat deelneem is die kompetisie straf.

Nelius Grieshaber, ʼn graad 11-leerder aan Hoërskool Ellisras het almal baie trots gemaak toe hy op 26 Augustus wegstap met ʼn A ++ en ’n eerste plek in sy kategorie, naamlik Beeldhou vir graad 11’s.

Hy het ʼn geskenkpakkie met kunsbenodigdhede vanaf die kunswinkel Jimnettes in Lynnwood, Pretoria, ontvang.

Sy beeldhouwerk, gemaak uit gips, leer en akrielverf, is gebaseer op ’n skildery: “The Red Model, 1934” van die bekende surrealis Rene Margritte.

Gizelle Terwin, ook van Hoërskool Ellisras, verwerf ’n A met haar beeldhouwerk.

Hierdie twee leerders se kunswerke word vanaf 26 tot 30 Augustus saam met 800 ander kunswerke by Lynnridge inkopiesentrum uitgestal.

Charlene van Staden, Visuele Kuns-onderwyser, is baie opgewonde oor die leerders se goeie prestasies en sy sê hulle beplan groot dinge vir Eisteddfod 2020.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.