Bekende sakeman oorlede — 21 November 1935-7 Oktober 2017

LEPHALALE — Die Bosveld het ʼn groot sakeman en geliefde verloor. At Stander is op 7 Oktober oorlede en sy heengaan laat beslis ʼn groot leemte in menige lid van die gemeenskap se harte.
At en Marthie Stander het in 1965 vanaf Lydenburg na Ellisras verhuis. At het daardie jare as vervoerkontrakteur vir die ou TPA opgetree en was ook betrokke by die instandhouding van paaie in die distrik. Sakeman wat hy was, het hy sy eie vervoermaatskappy begin en steenkool tussen Hoornbosch en Grootegelukmyn vervoer.
Later het die aankoop van plase gevolg waar hy suksesvol met beeste, wild en graan geboer het. At het onder andere die plaas Rus-my-siel op die Thabazimbipad vir die eerste keer by mev Girlie Eckard (oud-musiekonderwyser in Ellisras) gekoop. Hy verkoop dieselfde plaas aan Hennie van Biljon (ook ʼn bekende sakeman van die dorp) en koop dit toe weer terug. Daarna verkoop At die plaas aan Willie Bosch en koop dit uiteindelik weer terug. Die plaas is steeds in die familie se besit.
Nog ʼn interessantheid is dat At die oorspronklike eienaar van die ou Ellisras Elektries was, maar dit later aan wyle Danie Powell verkoop het. At het ook die ou Ellisras Brandstof (Shell Depot) gehad waar nog ʼn ou bekende, Lulu van Rensburg, vir jare gewerk het.
Volgens die drie dogters, Annetjie, Ronel en Riana, het hulle as gevolg van At se uitmuntende sakevernuf en ʼn goeie sin vir besigheid, nog die een oomblik rustig gebly en die volgende oomblik moes hulle plakkate van die mure afhaal en pak, want At het ʼn ander plaas of huis gekoop.
In ʼn vinnig veranderde wêreld, ook in Lephalale, het At moeilik aangepas by sekere dinge. Die bank was sy gereelde “kuierplek”. Hy het dit gemis om hier en daar ʼn koppie tee by die bank en winkels te drink. En dan die liewe rookwet. Die feit dat hy nie meer in geboue kon rook nie was vir hom ʼn nagmerrie, hy rook immers al van standerd ses af Lexington!
At se liefde vir sy gesin en hulle liefde vir hom was opmerklik. Dit was vir hulle ʼn groot skok toe hy ongeveer sewe weke gelede met kanker gediagnoseer is. Sy gesondheid het agteruit gegaan en op 4 Oktober moes At noodwendig in Mediclinic Lephalale opgeneem word waar hy op 7 Oktober oorlede is. Sy hele familie was by hom.
Marthie en die kinders bedank die gemeenskap vir hul liefde en ondersteuning: “Ons is ʼn geseënde familie”. Annetjie, Ronel en Riana bedank hul ma wat At so liefdevol versorg het.
At se gedenkdiens was op 12 Oktober om 11:00 vanuit die PPK Lighuis gehou. Pastoor Attie van Wyk het die diens waargeneem.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.