Ben op pad vir Jayden

LEPHALALE — Die 29-jarige Ben Nortjé van Lephalale het Saterdag 29 Februarie vroegoggend met sy fiets uit Lephalale vertrek op pad na Durban – ’n hele 1 500 km ver.

Ben, nou reeds bekend daarvoor dat hy ’n sagte plek het vir liefdadigheidswerk, sal ook tydens sy rit Durban toe in Lydenburg vertoef om Jayden Viviers (7) en sy ma, Valencia, vir die eerste keer te ontmoet. Jayden het downsindroom en Valencia is ’n enkelouer wat uitdagings het om die finansiële mas op te kom en die beste vir Jayden te bied.

Ben beoog om met hierdie poging geld in te samel sodat Valencia en Jayden die program van die Family Hope Centre (FHC) kan bywoon. Hierdie program sal Valencia in staat stel om die unieke uitdagings wat downsindroom aan hulle bied, beter te verstaan en te oorkom nadat ’n kundige evaluasie van Jayden gedoen is. By die FHC leer ouers hoe om hulle kind se funksies op alle ontwikkelingsvelde te verbeter, hoe om die mees geskikte behandelingsplan te kies vir hul huidige ontwikkelingsvlakke, en ouers word ondersteun in die implementering van hulle kind se geïndividualiseerde program tuis. Die FHC is tans uit Amerika in Suid-Afrika om die program aan te bied.

Alle fondse wat inbetaal word, word bestuur deur die niewinsgewende organisasie Backabuddy en deur Brainchild Fund versprei.

Ben se oorblywende roete lyk soos volg: 5 Maart van Hoedspruit na Lydenburg (137 km), 6 Maart van Lydenburg na Baberton (133 km), 7 Maart van Baberton na Amsterdam (187 km), 8 Maart van Amsterdam na Pongola (187 km), 9 Maart van Pongola na St Lucia (128 km), 10 Maart van St Lucia na Mandini (150 km) en 11 Maart van Mandini na Ansteys.

Skakel Ben by 082 557 5406 of Annelise by 079 878 8123 vir meer inligting

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.