Bikers gee om

LEPHALALE — ʼn Familiedag propvol aktiwiteite is Saterdag 3 Februarie by ʼn lodge sowat 3 km buite Lephalale op die nuwe Vaalwaterpad gehou met die doel om geld in te samel vir die mediese kostes rondom Dawid du Plessis (5).

Dawid is Dinsdagaand 23 Januarie in sy bed in sy ouers se huis in die Bulgerivieromgewing deur ’n Mosambiekse spoegkobra gebyt. Hy word in die Netcare Montana Hospitaal in die noorde van Pretoria behandel en was Maandag 5 Februarie vir die vyfde keer in die teater om sy wonde skoon te maak en onder andere ʼn abses te dreineer. Hy moes ook bloed ontvang.

Volgens Kerry Snyders, ʼn familievriend en stigter van die Facebook-blad “Pray for Dawid”, het die idee vir so ʼn dag as fondsinsamelingsgeleentheid by die “Bikers”-gemeenskap in Lephalale ontstaan.

Ongeveer 100 mense het die dag, wat om 12:00 begin het, bygewoon teen R70 ingangsfooi en verskeie aktiwiteite is aangebied. Elke persoon moes sy eie kos en drank saamneem.

Kerry beklemtoon dat geen geld spandeer is om die geleentheid moontlik te maak nie en dat hulle baie dankbaar is teenoor almal wat ruim skenkings gemaak het.

Alle fondse wat ingesamel word, word aangewend om die familie te help met mediese kostes.

Kerry het deur die dag ʼn brief voorgelees wat deur Dawid se ouers, Phillip en Retha du Plessis geskryf is. Die gemeenskap van Lephalale sowel as die Bikers-gemeenskap is van harte bedank vir hulle betrokkenheid en omgee. Kerry het ook terugvoer gegee oor die huidige stand van die finansies. ʼn Veiling in die middag het ook gehelp om die fondse aan te vul.

Dawid was Maandagmiddag 5 Februarie vir die vyfde keer in die teater om die wonde op die binnekant van sy arm toe te maak en dit het goed gegaan. Daar was ook geen infeksie nie. Die dokters het egter ook bekend gemaak dat daar ʼn 50% kans is dat hy sy ringvinger gaan verloor en die gesin het weer versoek dat daar vir Dawid gebid word.

Phillip en Retha bedank die gemeenskap vir alle bydraes en gebede. “Hou asseblief aan bid,” is hulle versoek.

Kerry het die Du Plessis’s ontmoet toe sy sewe maande swanger was met haar seuntjie. Sy was toe ook betrokke by fondsinsameling en het The Fold-kinderhuis besoek waar die Du Plessis’s woon en werk. Sy kan goed onthou dat Dawid daardie dag aan haar swanger maag gevat het en vir haar gesê het sy verwag ʼn seuntjie. Toe sy hoor van die slangbyt het sy dadelik besluit om betrokke te raak. Sy sê sy het op die oomblik tyd om dit te doen en daar was vir haar net geen ander opsie nie. Sy is ook besig om ʼn herinneringsboek saam te stel sodat die gesin later daarna kan kyk, want “hulle neem tans nie veel in nie”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.