Biltong máák die aand

LEPHALALE — Die Gereformeerde Kerk Magol het Vrydagaand 2 Junie hul jaarlikse Biltongaand aangebied en ‘n regte boere-orkes het die gaste vermaak.
Danie van Deventer, Frik van der Linde, Piet Barkhuizen en Piet Wessels is almal plaaslike manne wat weet hoe om musiek te maak.
Die gaste het gesmul aan biltongsop, pap en room met bokmelkkaas, biltong en droëwors. Verskeie items soos koedoe-, blouwildebees- en ngunivelle is deur Gert (Gif) du Plessis opgeveil. Daar was ook biltongkerwers, pragtige messe in bosveldhoutkissies, rieme, ‘n sweep en ‘n paar garing biltonge.
Gert het so goeie indruk gemaak met die mikrofoon dat die kleine Liney Retief en haar boetie voor die mikrofoon plek ingeneem en Titanic uit volle bors gesing het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.