Bloed kook oor water

LEPHALALE — Die tweede fase van die Lephalale Munisipaliteit se vervanging van asbeswaterpype behoort teen einde Julie 2018 afgehandel te wees. Inwoners van Onverwacht is egter moedeloos en woedend omdat hulle vir dae lank, sonder vooraf kennisgewing, geen water het nie. Kortom, dis ’n enorme gemors.

Die nuus dat Lephalale Munisipaliteit in samewerking met die Department van Water en Sanitasie die asbeswaterpype in Lephalale dorp en Onverwacht gaan vervang is die eerste keer in 2016 met die gemeenskap gedeel.

Die projek is in twee fases opgedeel waarvan die eerste fase in 2016 in Lephalale dorp ʼn aanvang geneem het.

Inwoners was egter van dag een af ongelukkig en ontstoke oor die manier waarop plaveisel voor hulle opritte opgekap is om die nuwe pype te lê en nie weer vervang is nie. Hope rooi grond het in die strate beland en dit het vir weke daar gelê sonder dat daar iets aan gedoen is. Slote en gate op sypaadjies is net so oop gelos sonder waarskuwingslint. Telkom- en elektriese kabels is raakgekap en net so gelos.

Die tweede fase (in Onverwacht) is vinnig besig om einde se kant se kant toe te staan met die kontrak wat volgens inligting einde Julie 2018 eindig.

Volgens inwoners word die watertoevoer na huise sonder meer afgesny om die pype te vervang sonder dat die huiseienaar enige kennisgewing ontvang. Van die inwoners was onlangs drie tot vier dae sonder huishoudelike water.

Elektrisiteitkabels word afgespit en die straatligte in verskeie strate werk al langer as ʼn maand nie meer nie.

Die waterdruk is pateties en strome water loop met tye in die pad af – die gevolg van toevoerkrane wat bloot oopgelos word. Tydelike koppelings word net so gelos en is meesal skeef gekoppel. Water spuit uit brandkrane.

Die munisipale bystandspanne moes naweke inspring en bontstaan om woedende inwoners te help.

Blykbaar is van die tydelike koppelings reeds toegegooi – en dít voordat die inspeksies voltooi is. Hoe gaan die waterdruk byvoorbeeld gemeet word as die pype reeds toegegooi of en hoe gaan hulle weet as daar waterlekke onder die grond is?

Die publiek soek antwoorde. Van die vrae wat gevra word is watter waarborg het die gemeenskap dat die kontrakteurs nie byvoorbeeld die water sal saboteer as hulle ná Julie nie die volle tenderbedrag ontvang nie? Hulle het tans volle toegang tot die oop- en toedraai van watertoevoerpype en reservoirs. Hoe deursigtig was die proses van tendertoekenning?

ʼn WhatsApp-groep, “Water en ligte-krisis” is geskep sodat inwoners hulle klagtes op die groep kan opper in die hoop om ʼn oplossing daarvoor te vind.

Inskrywings op die groep getuig van inwoners se frustrasies en wanhoop oor die toestand.

Van die desperate inskrywings op die WhatsApp-groep lees as volg:
• Daar is geen werkers by gebarste pyp voor PPK Kerk nie.
• Hi daar is daar enige iemand wat ons dalk kan sê hoe lank die water nog gaan af wees. Dis regtig ongerieflik.
• Enige inligting oor water wat nogsteeds af is in Boekenhoutstraat en Diepkuil?
• Please help also with the street lights on Springbok Street in Onverwacht, some of us leave very early while it’s still dark outside and it’s not safe for us.
• Is it not possible for Lephalale municipality to notify residents in ADVANCE that there will be a disruption of water supply due to the connection of the new water pipeline? If residents are notified in advance they can at least collect water in buckets and bottles for drinking, cooking, washing and flushing toilets……..
• Rêrig die skoolvakansie was 3 weke! Grou gate orals, verwoes alles in die proses, los alle gate onveilig oop. Kry net klaar!

Volgens inligting ontvang het die kontrakteurs wat verantwoordelik is vir die lê van die nuwe pype tot aan die einde van Julie 2018 tyd om die projek te voltooi. Die oorspronklike datum was blykbaar einde Junie, maar hulle het ʼn maand uitstel gekry om klaar te maak.

Mogol Pos het met Sybil Nieuwoudt, DA-raadslid, gepraat aangesien Onverwacht haar wyk is. Sy sê die munisipaliteit gaan blykbaar van die kontrakteurs se geld terughou wanneer die kontrak verstryk het en die werk nie na behore gedoen is nie. Die kontrak sal nie afgeteken word voordat almal nie tevrede is nie.

Die volgende boodskap was Maandag 16 Julie op die Lephalale Munisipaliteit se Facebook-blad geplaas:
We hereby apologize for the disruption of water supply over the weekend.
The disruption was due to connection of a new pipeline.
Water supply will be disrupted from 8:00 to 13:00 tomorrow (17 July 2018) to allow for the completion of the connection process of new pipeline in Onverwacht
For more information contact: Municipal standby number 082 770 0085.

Teen Woensdagoggend was moedelose inwoners steeds sonder water.

Die naam van die WhatsApp-groep beskryf die situasie dalk die beste – dit is ʼn krisis en presies wat gaan daaraan gedoen word? Of gaan dit soos die rioolsituasie net voortfoeter en ʼn groter probleem word?

In ʼn tyd waar daar soveel bewusmaking is oor waterbesparing, hoe is dit moontlik dat strome water vir dae lank in die strate afloop sonder dat daar opgetree word?

Gaan die kontrakteurs wegkom met onvoltooide en swak gehalte werk en diens?

Mogol Pos kon, ten spyte van vele pogings, nie daarin slaag om met enige van die rolspelers by die Munisipaliteit te praat nie.

Die Munisipale Bestuurder se kantoor het wel onderneem hulle sal terugkom na Mogol Pos oor ʼn moontlike afspraak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.