Blye dag vir NG Limpopo

STEENBOKPAN — Dit was Saterdag 1 Februarie ’n blye dag toe die NG Limpopo-gemeente ’n nuwe leraar om 16:00 ingehuldig het. Ds Chris Nel het meer as twee jaar gelede reeds die tuig neergelê by dié gemeente, wat Steenbokpan en Matjiesfontein insluit.

Die Limpopo-gemeente is die tweede kleinste in die ring, maar soos hulle sê, belangrik genoeg om vernoem te wees na die grootste provinsie in Suid-Afrika.

Die bevestiging van ds Hein Enslin is deur ds Thinus Benade waargeneem. Hy het 2 Korintiërs 4:7 as teksvers aangehaal en beklemtoon dat alle krag van God af kom, maar dat God doodgewone mense goed genoeg ag om die evangelie te verkondig deur die Gees van God. Soos die teksvers sê: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie”.

Verwelkomingsboodskappe is deur Di Paul Grobler, Marco le Grange, JZ de Jager en Chris Nel gelewer, asook ouderlinge J Fourie namens die Matjiesfonteingemeente en Abram Pelser namens die Steenbokpangemeente.

Ds Hein het gesê dat sy bede vir die Limpopo-gemeente is om elkeen se beste vriend te word, terwyl almal hulle verhouding met God geniet. Hy sou Sondag 2 Februarie sy intreepreek by Matjiesfontein se gemeente gelewer het.

Meer oor ds Hein:
Ds Hein Enslin het in Swaziland grootgeword. Sy ouers het baie getrek en hy matrikuleer aan die Hoër Tegniese skool in Kimberley (sy tiende skool) in 1976. Hy doen sy twee jaar diensplig in die lugmag as hondehanteerder. Gedurende 1984 voltooi ds Hein sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria en vanaf 1986 tot 1995 is hy leraar by die NG gemeente Daniëlskuil.

Sy kerkpos het in 1995 gesluit waarna hy voltyds kommersieel gaan vlieg het. Ds Hein sê sy hoogtepunt was die twee jaar in Zanzibar, maar ook later die vyf jaar diens gedurende die oorlog in Irak. Hy het homself ook bekwaam as vlieginstrukteur en ’n kwaliteitbeheermaatskappy begin wat lugvaartmaatskappye bystaan om by die reëls te hou.

Ds Hein het drie kinders waarvan die oudste, Natanja, getroud is en twee kinders het. Sy seun, Heinrich, is ook getroud en het een seun, terwyl die jongste, Carlimari, tans in matriek is.

Ds Hein klink na ’n hoogvlieg-predikant. Mogol Pos wens hom sterkte toe met sy bediening in die nuwe gemeente.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.