Boikarabelo konstruksie begin vroeg 2020

STEENBOKPAN — Verteen-woordigers van Boikarabelo het onlangs ʼn voorlegging vir die Raad van Lephalale Munisipaliteit gedoen waarin aangedui is dat konstruksie van die beplande R4,2 miljoen Boikarabelo Steenkoolmynprojek naby Steenbokpan teen April/Mei 2020 sal begin.

Daar sal sowat 2 700 werknemers tydens konstruksie nodig wees en 700 vir die bedryf van die myn. As alles volgens plan verloop sal die konstruksietyd sowat 27 maande duur. Die pad vanaf die Medupi-kruising tot in Steenbokpan sal oorgedoen word. Die area waar die beplande behuising (kontrakteurskamp) sal wees, is reeds voorsien van ʼn rioolsisteem en die hele area om die myn is uitgekoop.

Die finalisering van die Lesedi-woongebied is nog nie afgehandel nie, aangesien omgewingsimpaktoetse aandui dat dié area ʼn gesondheidsrisiko kan inhou. Die kwessie is tans of Lesedi geformaliseer moet word en of die inwoners geskuif moet word na die beplande Altoostyd langs Onverwacht.

Water vir die myn sal verskaf word deur middel van boorgate saam met die water van die Marapong Rioolaanleg.

30% van die kontrakte is nog nie uitgegee nie want sowat 30% van die verskaffers van byvoorbeeld grond, klip, stene en sand moet plaaslik wees. Nasionale Tesourie het dit ingestel dat elke groot kontrak ten minste 30% van die begroting plaaslik moet spandeer.

Lephalale Munisipaliteit het versoek dat daar ʼn sosiale fasiliteerder aangestel word wat die werwingsproses vir vakante poste sal hanteer. Die uitslag van die versoek was teen druktyd nog nie bekend nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.