Boom-chaos

LEPHALALE — ’n Geweldige wind en stofstorm het Dinsdagmiddag 15 Oktober om ongeveer 16:15 chaos veroorsaak toe ’n groot koorsboom deur die wind ontwortel en in OR Tambo-rylaan oor die teerpad geval het.

Die boom, wat in Laerskool Ellisras se terrein gestaan het naby die hoofingang, het die palissade uitgeruk met die valslag.

’n Nissan Skyline, wat in die linkerbaan naby aan die verkeerslig by die ingang gery het, is deur die boom getref. Die bestuurder van die Skyline het vir Mogol Pos gesê dit het so vinnig gebeur dat hy aanvanklik nie besef het wat aangaan nie. Die voertuig is erg beskadig en die voor- en agterruit het in duisend stukke gebreek.

Die verkeer in en uit die dorp het vir kilometers opgedam omdat die pad heeltemal versper was deur die boom.

Werkers van die Departement Openbare Werke het ingespring en die boom met groot moeite uit die pad gesleep sodat die verkeer kon vloei.

Verkeersbeamptes was vinnig op die toneel en het die verkeer beheer. Daar was ten minste een botsing aangemeld na aanleiding van die voorval.

Mogol Pos kon teen druktyd nie bevestig of enigiemand in die voorval beseer is nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.