Borg vir beweerde bedrog

Andriné Grové

LEPHALALE — Die 31-jarige Andriné Grové van Lephalale is Sondag 19 Januarie deur die polisie in Lephalale gearresteer en sy het Maandag 20 Januarie in die Landdroshof in Lephalale verskyn op ’n aanklag van bedrog.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Polisie se Klusterwoordvoerder, het Grové na bewering haar werkgewer se templaatfaktuur vervals deur haar eie rekeningnommer te verskaf as rekening waarin betalings gedoen moes word.

Grové, wat volgens inligting haar
LLB-graad aan die Noord-Wes Universiteit behaal het, het vanaf Oktober 2019 ’n pos as administratiewe klerk by haar huidige werknemer beklee.

Sy is Maandag tydens haar hofverskyning borg van R1 500 toegestaan en die saak is uitgestel na Donderdag 20 Februarie 2020.

Volgens adjudant-offisier Mokoena was daar, buiten die bedrogklag in Lephalale, voorheen twee klagtes van diefstal teen haar aanhangig gemaak (in Polokwane en Potchefstroom).

Grové was ‘n leerder aan die Hoërskool Ellisras en het ook daar gematrikuleer.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.