Bossienuus

Blink, Blinker, Bossies

V.l.n.r.: Lanelle Vermaak, Wikus van Schalkwyk, Ilis-Marie Venter, Branden Perrier en Deoné Barnard saam met skoolhoof Louwtjie Pretorius

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary het Donderdagaand 2 November tydens hul jaarlikse prestige prysuitdelingsfunksie die leerders in verskeie kategorieë beloon.
Vanjaar se program was heelwat verkort teenoor vorige jare en Corrie van der Merwe, die organiseerder, het ʼn stylvolle en prestige geleentheid verseker. Pastoor Johann Young het die opening waargeneem waarna Louwtjie Pretorius, skoolhoof, die verwelkoming gedoen het.
Hy het die beheerliggaam asook lojale ouers bedank vir hulle groot bydrae om Laerskool Bosveld Primary ʼn veilige plek vir die leerders te maak. Hy het voorts gesê dat sonder ouers se aanmoediging en betrokkenheid by leerders se aktiwiteite, medaljes en oorwinning nie moontlik is nie. Hy het ook die personeel verwelkom en gesê hy is trots op toegewyde personeellede wat ʼn groot rol speel in die resultate wat deur leerders behaal word. Pretorius het die seuns en dogters as spesiale gaste beskryf en hulle aangemoedig om hul doelwitte vasberade na te streef.
Toekennings is gemaak vanaf grondslagfase tot graad 7 vir prestasies behaal op kultuur-, sport- en akademiese gebied.
Die hoogtepunt van die aand was die aankondiging van die Kultuurseun en –dogter, Branden Perrier en Lanelle Vermaak. Die Sportseun en -dogter is Wikus van Schalkwyk en Ilis-Mari Venter, die Dux-leerder is Branden Perrier en die Bossieseun en -dogter van die Jaar is Branden Perrier en Deoné Barnard.
Dié prestigeaand is afgesluit deur Me S van Deventer.

(Gaan kyk gerus op Mogol Pos se Facebook-bladsy vir nog foto’s).

Bossieleiers gekies

Wilmari du Preez, Louwtjie Pretorius en Ruan Mostert

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary het Maandagaand 30 Oktober hulle 2018-leerlingraadinstelling in die skoolsaal gehou.
Volgens die organiseerders is hierdie aand vir baie leerders ‘n groot hoogtepunt in hulle skoolloopbaan en daarom maak hulle seker dit is ‘n baie spesiale aand.
Die volgende leerders is as leiers aangewys:
Ruan Mostert en Wilmari du Preez onderskeidelik as hoofseun en hoofdogter;
Jeselte van Rooyen (sportvoorsitter), Bronwyn van Rooyen (kultuurvoorsitter), Sorina Nortje (orde- en dissiplinevoorsitter), Dean Moss (funksies-, fondse- en omgeevoorsitter) en Lola Ndlovu (akademiese voorsitter).
Skoolhoof Louwtjie Pretorius asook die leerlingraadvoogde, onderwysers en leerders is baie trots op die nuwe leerders wat hulle skool volgende jaar gaan lei.

Nuwe swemrekords vir LBP

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary (LBP) se swemspan het Saterdag 21 Oktober aan die Swem-interlaer te Groblersdal deelgeneem en baie goed gedoen.
Die volgende eerste plekke is behaal:
Janco Sparks (50 m rugslag, seuns o. 8);
Friedrich Neethling met ’n nuwe rekord (50 m vryslag, seuns o. 8); Veneske Steenkamp met nuwe rekords vir 50 m vryslag en 50 m rugslag vir dogters o. 9; Ashley Jansen van Vuuren vir die 50 m en 100 m rugslag vir dogters o. 11 en Roelof Taljaard vir die 50 m en 100 m vlinder- en rugslag vir seuns o. 12.
Die o. 8- en o. 9-dogters behaal eerste plekke in die vryslagaflosse en hulle teken ‘n nuwe rekord aan.
Veneske Steenkamp word aangewys as Junior Victrix Ludorum.
Laerskool Bosveld Primary behaal ‘n algehele derde plek en dring deur na die Top 10 skoleswemgala wat op 4 November in Polokwane gehou was.
Teen druktyd was die uitslae nog nie aan Mogol Pos bekend nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.