Brandweer skitter in afwesigheid

LEPHALALE — ʼn Lapa by ʼn huis in Spoelklipstraat in Onverwacht het verlede Donderdagaand 26 Julie rondom 23:00 heeltemal afgebrand sonder dat die brandweer daar opgedaag het. Die sitkamer van die huis het ook afgebrand.

Lede van die gemeenskap en die gemeenskappolisiëringforum (GPF) het self probeer om die vlamme te blus en te keer dat dit nie verder versprei nie.

Mogol Pos het gepraat met Piet Kruger wat die verhuring van die huis namens sy pa, ook Piet Kruger, hanteer. Volgens hom is ʼn TV uit die lapa gesteel en die diewe het vermoedelik die lapa aan die brand gesteek.

Lephalale Munisipaliteit se brandweer, wat by die Rampsentrum gestasioneer is, is herhaaldelik geskakel, maar daar was geen antwoord nie.

Volgens ʼn lid van ʼn sekuriteitsmaatskappy wat ook op die toneel was om hulp te verleen het hy later persoonlik na die brandweer gery in ʼn poging om hulle by die toneel te kry. Hy sê hy het ongeveer tien minute na die brandweerbeamptes gesoek en die sekuriteitbeamptes wou hom nie help nie. Twee mans het later vir hom gevra wat sy probleem is en toe hy vir hulle sê daar is ʼn huis wat afbrand en die brandweer se hulp is nodig, het hulle na bewering vir hom gesê: “we don’t have PPE, we will not respond”.

Hy het daarna iemand van Medupi in die hande gekry en hulle het ʼn noodspan uitgestuur. Die brand is uiteindelik eers om 02:00 Vrydagoggend geblus.

Volgens ʼn betroubare bron het die brandweerbeamptes wel PPE (veiligheidstoerusting) maar hulle het nie nuwes ontvang nie en weier daarom om te help by tonele – ook by ongelukstonele.

Mogol Pos het Pat Malete, hoof van kommunikasie by Waterberg Distriksmunisipaliteit om kommentaar genader, maar teen druktyd was daar geen reaksie nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.