Camino vir die siel

Die eindpunt van die roete – die katedraal in Santiago de Compostela

LEPHALALE — Tharina Rossel, Elmien Lewies en dr Christien Fuls van Lephalale het onlangs binne ses dae ʼn gedeelte van die wêreldbekende Camino de Santiago-roete gestap. Letterlik duisende mense stap jaarliks dié bekende pelgrimstog.
Tharina sê haar dogter, Katinka Heyns, wat in 2014 saam met haar gesin verhuis het na Georgia in die VSA, het onlangs 40 jaar oud geword en dit was haar groot wens om dié roete saam met haar ma en jarelange vriende te stap. Tharina se vriendin, Stephina Swart, het ook saamgestap. Stephina en haar gesin het voorheen in Lephalale gewoon, maar woon nou in Doha, Qatar.
Volgens Tharina kan ʼn mens self besluit hoe ver en van waar af jy dié roete (wat aanvanklik ontstaan het as ʼn pelgrimsroete) wil aanpak.
Hulle het by die Confraternity of St James in Suid-Afrika geregistreer voordat hulle vertrek het en elk ʼn pelgrimspaspoort gekry. Dié paspoort is baie belangrik, want dit word in elke dorp waardeur jy stap gestempel om te bevestig dat jy uiteindelik wel ʼn minimum van 100 km gestap het. Om ʼn “compostella” of sertifikaat te ontvang, moet jy darem ten minste 100 km van dié roete aflê. (Hulle groep het ʼn totaal van 135 km afgelê).
“Jy stap dus met jou pelgrimspas-poortboekie en in elke dorp (of verskeie stopstasies langs die roete) stop jy vir ʼn stempel. Vir my is die ongelooflikste van alles dat hulle mense vertrou. As jy jou paspoort gee vir ʼn stempel, dan vertrou hulle jy het van die vorige dorp af gestap en nie byvoorbeeld met ʼn taxi gery nie,” sê Tharina.
“Jy kan dus stap en rus en stap en rus en eet vir so lank as wat jy wil, jy moet net seker maak dat jou eindpunt vir die dag in ʼn dorp eindig,” sê sy.
Sy sê vir hulle was dit belangrik om behoorlik te slaap. “Ek hoef op hierdie stadium in my lewe niks meer te bewys nie. Ek wil vooraf weet waar ek gaan slaap en of daar ʼn behoorlike skoon badkamer is,” sê sy.
Alhoewel daar baie mense is wat net eenvoudig stap totdat hulle by ʼn dorp aankom en net in “pelgrimshuise” (amper soos “backpackers”) slaapplek kan kry, het Tharina-hulle vooraf plek bespreek in hotelle. Hulle tasse is met ʼn “shuttle” na die hotel vervoer vir €4 per dag, dus het hulle elke dag net ʼn dagsak gedra. Hulle aandete was gewoonlik uit die naaste supermark, omdat dit goedkoper was as om elke aand in die hotel se restaurant te eet.
Wat vir hulle nog besonders was, is die feit dat jy met geen GPS of kaart stap nie – jy volg net die roete-aanwysers, waarvan sommiges honderde jare oud is.
Hulle groep het die Portugese Camino gestap op die grens tussen Portugal en Spanje. Almal eindig in Sandiago de Compostela.
Tharina sê mens moet definitief stapfiks wees om dié uitdaging aan te pak, maar niks het hulle voorberei op die groot dele wat hulle moes “klim” nie. Volgens haar is die begin van Oktobermaand die beste tyd om te gaan, omdat dit ongelooflik warm kan word in Spanje.
Alhoewel sommige mense dié roete kaalvoet aanpak, is Tharina se raad om jou voete eers met Vaseline in te smeer, daarna sykouse aan te trek en dan jou sokkies. “Jy wil nie blase op jou voete hê nie,” sê sy.
Dit was die tweede keer dat sy die Camino stap (sy het dit drie jaar gelede ook gestap) en sy sê sy sal dit weer doen. “Terwyl jy daar in die hitte van die stryd is vra jy jouself ʼn paar keer af wat jou besiel het om dit te doen, maar sodra jy terug en bietjie uitgerus is, wil jy dit weer doen,” verseker sy.
Kostegewys het hulle dit so goedkoop as moontlik probeer doen en baie rondgesoek vir die goedkoopste vlugte en slaapplek. “As jy dit mooi beplan kan jy vlieg vir R10 000 en slaap vir minder as R500 per nag. Jy hoef ook nie duur te eet nie en ons het baie niebederfbare kos saamgeneem. Jy kan oorleef met ʼn maksimum van €30 per dag. Daar is ook baie plekke waar jy byvoorbeeld ʼn bier bestel en ʼn broodjie of ander peuselhappie bykry. Gratis en verniet”.
Die groep is dit eens – dit was ses dae se stap wat ervaringsgewys nie aan geld gemeet kan word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.