Carla Everdina Kruger 27 Junie 1946 – 13 Februarie 2020

Die 73-jarige Carla Kruger se verskriklike pyn en lyding het Donderdagoggend 13 Februarie tot ’n einde gekom. Sy is in haar huis net buite Lephalale dood. Dit was haar wens om by haar kinders te wees in haar laaste weke en haar wens is uitgevoer.

Piet, haar wederhelf wat die pad van pyn en lyding saam met haar gestap het, sê hulle het vrede dat Carla en Arno (hulle seun wat meer as 20 jaar gelede in ’n motorongeluk dood is) nou bymekaar is.

Carla het op 4 Augustus 2019 op aandrang van die dokter vir ’n kolonoskopie gegaan en die dokter het gesien dat daar kanker in haar kolon was. Hy het voorgestel dat sy so gou moontlik geopereer word. Volgens Piet was die operasie ’n groot fout, want sy was nooit weer haarself nie en het ’n vreeslike lyding gehad. As hy een ding kon anders doen, sou dit wees om haar nie te laat opereer nie.
 Die kanker het versprei na ander organe. Sy was twee keer na die operasie weer in die hospitaal in Pretoria, maar Piet het besluit om haar huis toe te neem waar sy tuis versorg is. Piet het ’n groot deel van haar versorging self gedoen en om iemand vir wie jy lief so te sien ly is nie grappies nie.

Carla was bekend vir haar liefde vir haar kinders en kleinkinders.

Piet bedank veral vir Marika van Zyl van KANSA Lephalale vir haar hulp, bystand en raad, vir Ferdi Steyn van Koedoe-apteek, dr Willie Barnard en almal wat by hulle lewens betrokke was.

Carla laat haar man, Piet, twee seuns Erwin en Pieter en vier kleinkinders agter.

Carla se roudiens word Donderdag 20 Februarie om 11:00 vanuit die PPK Kerk in Onverwacht gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.