Cecilia woeker met skryftalent

Ná tien Lapa-romanzas het Cecilia (Nortjé) Slykhuis verlede jaar verras met haar eerste erhoudingsroman, ʼn Huis vir altyd. Dis die verhaal van Milan, ʼn rykmansvrou wie se lewe oornag omver gegooi word. Skielik is sy ʼn weduwee, brandarm, sonder kwalifikasies en moet sy haar voete vind in ʼn plattelandse dorpie. In ruil vir ʼn heenkome en ʼn vet salaris trou sy met Herk Bocklenberg, ʼn boer in die omgewing. Op haar beurt moet sy ma speel vir Herk se drie kinders.

Die opvolg op die roman, ʼn Kans op vir altyd, is pas uitgegee. Dis vyf jaar sedert Milan van Herk geskei is en haar lewe is vol.

Sy besit drie suksesvolle leefstylwinkels en daar is ʼn nuwe man in haar lewe. Estie, haar stiefdogter wat alle kontak met Milan verbreek het, het pas begin werk as junior rekenmeester terwyl Jessica, Estie se ma wat sewentien jaar gelede oornag weggeloop het, ʼn trouplaas bestuur. Dit klink na drie suksesvolle vroue met vervulde lewens, maar Vaalkrans en die verlede hou hulle vasgevang.

“Terwyl ek besig was met die skryf van ʼn Huis vir altyd het ek besef ek wil ʼn opvolg skryf,” sê Cecilia oor die nuwe boek. Milan se lewensverhaal was die klippie in die poel wat veel wyer kringe gemaak het as wat sy self aanvanklik voorsien het. Sy moes eenvoudig ook Estie en Jessica se stories vertel en natuurlik wou sy vir Milan die ‘happy ever after’ gee wat sy in die eerste boek misgeloop het (en waaroor sommige lesers bitter ontstoke was).

Dis moeilik om die boek in ʼn spesifieke kategorie te plaas. Christelik is dit nie, al is God en Milan se worsteling met Hom ʼn integrale deel van die storie. Eintlik is dit maar net drie vroue se lewensverhaal. Dis ʼn diep storie wat ook vermaak. Dit laat jou lag en huil, maar bo alles laat dit jou voel: ek was ook al daar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.