COVID-19-toename soos koue front

LEPHALALE — “Dit is tans doodstil by Mediclinic Lephalale rakende COVID-19-pasiënte,” sê dr Mariëtte Emslie, hospitaalbestuurder by Mediclinic Lephalale. Sy sê ook hulle is ’n groot toename binne die volgende week of twee te wagte.

Alhoewel daar teen druktyd nie COVID-pasiënte in dié hospitaal was nie, is daar volgens haar altyd mense wat reeds getoets het en wag vir hulle uitslae in die COVID-saal.

Sy sê die Mediclinic-takke in Pretoria en Johannesburg begin al hoe meer pasiënte opneem wat positief toets vir COVID-19 en die intensiewesorgeenhede begin besig raak. Hospitale in Limpopo wat sedert die inperking nog geen COVID-pasiënte opgeneem het nie, het ook nou positiewe pasiënte opgeneem.

Sy vergelyk die opwelling in die toename van positiewe pasiënte in Gauteng met ’n “koue front”. “Dit begin byvoorbeeld in die Kaap, dan Gauteng en versprei later na Limpopo. Ons verwag definitief ’n groot toename,” sê sy.

Sy stel die gemeenskap gerus dat, alhoewel Mediclinic Lephalale nie ’n intensiewesorgeenheid het nie, daar wel ’n hoësorgeenheid is.

“Daar is ook suurstof by elke bed en die hospitaal het CPAP-maskers gekry wat help met hoëvloeisuurstof en Airvo-masjiene wat help met nie-indringende ventilasie. Dit beteken die pasiënt het ’n masker op en is nie geïntubeer nie (het nie ’n pyp in sy trachea nie), is wakker en nie onder verdowing soos in die teater nie,” verduidelik sy.

Sy sê verder ’n hospitaal het nie ’n intensiewesorgeenheid (ISE) of ISE-personeel nodig om hierdie maskers en masjiene te gebruik nie.

“Die aantal mense wat werklik siek is van die virus kan soos volg verduidelik word – indien 100% mense die virus opdoen, sal 80% van hulle asimptomaties wees en 20% siek. 10% van dié siek mense gaan waarskynlik in die intensiewesorgeenheid beland en 5% van hulle sal wel in Mediclinic Lephalale behandel kan word.

“Die hospitaal het Deksametasoon* en bloedverdunners beskikbaar, sowel as genoeg suurstof, maskers en die Airvo-masjiene,” verseker sy.
Sy sluit af deur te sê dat daar onlangs vasgestel is dat die siekte klein bloedklontjies in die longe kan veroorsaak (daarom is bloedverdunners nodig) asook dat mense wat ly aan hoë bloeddruk, hoë cholesterol en diabetes ’n groter kans het om die virus op te doen.

*Deksametasoon is ’n kragtige sintetiese lid in die klas van glukokortikosteroïed geneesmiddels met anti-inflammatoriese en immuunonderdrukkende effekte. Dit is 25 keer meer potent as kortisol in sy glukokortikoïed effek, maar met ’n minimale mineraalkortikoied effek.

Dit is op die WGO se lys van noodsaaklike medisyne, ’n lys van die belangrikste medikasie wat nodig is in enige basiese gesondheidsisteem.

Deksametasoon word gebruik om verskeie inflammatoriese en outo-immuuntoestande soos rumatoïede artritis en brongospasme te behandel. Dit is onlangs bestempel as ’n “deurbraakmiddel” in die behandeling van COVID-19.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.