Dale-verdagte gevang

TOM BURKE — Lede van die Heritage Protection Group (HPG) het Maandagaand 21 Mei om ongeveer 22:30 ʼn verdagte in Mokotopong naby Polokwane gearresteer in verband met die aanval en moord op die plaas Dale in die Tom Burke-distrik op Woensdag 21 Maart vanjaar.

Volgens Sakkie Louwrens van HPG is die verdagte positief geïdentifiseer as een van die verdagtes wat betrokke was by die voorval.

Daar is beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool, ammunisie, messe en selfone.

Die verdagte het Dinsdag toneeluitwysings gedoen.

Volgens Louwrens sal die verdagte Donderdag 24 Mei in die Landdroshof in Lephalale verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord (x2) en roof verswarend.

Wyle Jasper von Kleist, plaasbestuurder van die plaas Dale, is Woensdagaand 21 Maart 2018 noodlottig gewond nadat verdagtes eers geskiet het op Charlie Solomon (die seun van Nico Solomon, eienaar van die plaas) en hom gewond het. Die verdagtes is daarna na Von Kleist se huis waar sy vriendin Sonja Joubert ook gewond is.

HPG het later een van die plaaswerkers, twee verdagtes wat deel was van die beplanning, sowel as die drywer van die voertuig waarmee die verdagtes weg is, gearresteer in verband met die voorval. Hulle is steeds in aanhouding. Daar word nog gesoek na drie verdagtes en die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.