Dalk mensehandel

Die agt vrouens tydens ondervraging

GROBLERSBRUG — Die bestuurder van ’n geel Toyota Dyna trok met blou seile is Maandag 7 Oktober by die Groblersbrug-grenspos voorgekeer nadat inligting ontvang en opgevolg is oor onwettige immigrante.

Die geel Toyota Dyna trok

Adjudant-offisier Hennie van Staden van Groblersbrug SAPD sê hulle hou die trok se bewegings al ’n rukkie dop. Hulle het Maandag inligting vanaf misdaadintelligensie ontvang dat die trok Maandagmiddag op die R572 (Alldays/Lephalale) opgemerk is en dat dit moontlik verbind kan word met mensehandel.

Die trok was Maandagaand 20:00 by die grenspos gestop en deursoek deur lede van die polisie in Tom Burke, die Heritage Protection Group (HPG) en Senyaka Security. 42 Malawiese burgers, wat drie minderjarige kinders en agt vroue insluit, was agter op die trok.

Ao Van Staden sê die mense is vir eers almal aangekla as onwettige immigrante asook vir hulpverlening aan verbode immigrante. Teen druktyd was hulle by Witpoort SAPD aangehou.

Die drie kinders was in Witpoort Hospitaal vir mediese ondersoeke. Hulle ouderdomme kon teen druktyd nog nie bevestig word nie.

Volgens ao Van Staden het ’n hele paar van die mense wel paspoorte by hulle gehad, maar die stempels is nie wettig nie. “Dit is baie keer stempels wat vroeër by die Departement van Binnelandse Sake gesteel is. Van die 42 mense wat aangehou word, is daar net elf wat móóntlik wettig in die land is,” het hy verduidelik.

Van Staden sê sover hulle kon vasstel was die mense op pad na Johannesburg en
Natal.

Daar is nie klinkklare bewyse dat die mense vir mensehandel in die land ingebring word nie, maar ao Van Staden sê dit is realiteit dat dié mense byvoorbeeld by ’n fabriek in Johannesburg afgelaai word. Die eienaar “koop” hulle as’t ware, gee vir hulle kos en verblyf en die geld gaan na die eienaar toe wat dan besluit hoeveel hy die immigrante betaal.

Die meeste mense dink dat mensehandel te doen het met seksslawe, maar bogenoemde gevalle is ook ’n vorm van mensehandel.

“Die volgende stap is om die kinders te identifiseer en hulle met hulle families in Malawië te versoen. Ons het gelukkig ’n goeie verhouding met die Malawiese regering. Dit sal dus nie te moeilik wees om die kinders met hulle familie te versoen en om saam met hulle regering te werk om mensehandel te bekamp nie,” sê ao Van Staden.

Die saak word ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.