Dames in pajamas

LEPHALALE — Die AGS El Bet-el het Vrydagaand ʼn besondere aand vir moeders en dogters aangebied, almal getooi in pajamas. Die pajamadrag het dadelik die byeenkoms in een groot informele lekkerte verander.

Ouma Alta Steyn, ma Annemie Breedt
en kinders

Dié funksie het dit ten doel om ma’s en dogters te bederf en veral om mekaar te bederf en te sosialiseer. Gaste is verwelkom met ʼn sjokolademelkskommel waarna hulle foto’s kon laat neem by ʼn ateljee wat spesiaal vir die doel opgestel is. Daar het oumas met hulle dogters én húlle dogters saam kosbare herinneringe gebou met die neem van familiefoto’s.

Liezel Roesch en Lizette Venter, organiseerders, het almal verwelkom. Die rondomtaliebederf het afgeskop met plantjies wat in blikkies vir mekaar geplant is. Verder was daar ʼn vraag-en-antwoordsessie – ideaal om te leer om werklik te luister en om verhoudinge te verbeter. Gesigsbehandelings, voetspa en handbederf in die kleine is op mekaar toegepas.

Die kuier was tot laataand en dit was duidelik dat daar in die doel geslaag is vir moeders en dogters om daardie spesiale bande te verstewig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.