Damvlakke, hittegolf en … reën

Volgens die Departement van Water en Sanitasie se damvlakstatistieke was die Mokolodam op 1 Januarie vanjaar 82,1% vol teenoor slegs 65,8% die ooreenstemmende tyd in 2017.
Die dam se volle bergingskapasiteit is 145,8 miljoen kubieke meter en dit is die sesde grootste dam in Limpopo. Die ander vyf groot damme se kapasiteit in miljoen kubieke meter is De Hoopdam (Steelpoortrivier) 348,7; Flag Boshielodam (Olifantsrivier) 185,2; Middel-Letabadam (Middel-Letabarivier) 172,0; Nandonidam (Levhuvhurivier) 166,2 en Tzaneendam 156,6 (Groot-Letabarivier).
Limpopo se gemiddelde damvlakke van 28 damme, wat onder die Departement van Waterwese resorteer, was aan die begin van die nuwe jaar 65,7% vol teen verlede jaar se 51,1%.
Lephalale/Onverwacht het teen 8 Januarie 2018 nog bitter min reën gehad, maar goeie neerslae is gemeet in die opvangsgebied van die Mokolodam.
Lephalale se temperatuur was op 8 Januarie die hoogste in Suid-Afrika. Bloedige warm en bedompige weer het mens, dier en plant verlep laat voel.
Teen Dinsdag 9 Januarie laatmiddag het reën mildelik in Lephalale en omliggende gebiede uitgesak en Onverwacht het 26,5 mm reën gemeet. 70 mm reën is gemeet op die plaas Bergsig nader aan Marken en 38 mm op die plaas Iamavé, ook in die Marken-area.
Teen druktyd is koeler weer in Limpopo voorspel wat nader aan die naweek weer sou styg.

(Bron geraadpleeg: www.dwa.gov.za.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.