Daniël se droom word waar

LEPHALALE — Die organisasie Reach for a Dream het Lephalale Vrydag 4 Mei besoek en volgens Helene Albrecht, vrywilliger by Reach for a Dream, is dit die eerste keer dat dié organisasie iemand in Lephalale besoek.

Die 10-jarige Daniël Beetge, ʼn graad 4-leerder by Hardekool Akademie, het Fanconi Anemie-sindroom, ʼn raar sindroom wat veroorsaak dat die beenmurg nie die regte hoeveelheid bloedselle produseer nie.

Ongeveer 90% van mense met Fanconi Anemie het ontoereikende beenmurgfunksie wat tot ʼn afname in die produksie van alle bloedselle (aplastiese anemie) lei.

Ander kenmerke van die sindroom is fisiese abnormaliteite waaronder abnormaliteite van die voorarms die mees algemene is; hulle immuniteit is laag en hulle is vatbaar vir infeksies as gevolg van die lae aantal witbloedselle en hulle kan ook bloedstollingsprobleme hê as gevolg van die lae aantal bloedplaatjies.

Volgens Jeanette Beetge, Daniël se ma, lei hy ʼn heel normale lewe, behalwe vir die gereelde bloedoortappings wat hy moet kry en wat dié siekte lewensbedreigend maak, is dat dit kan omsit in leukemie.

Volgens Helene, wat Daniël se verrassing in Lephalale gereël het, is daar webtuistes waar lewensbedreigende siektes gelys word en hospitaalpersoneel weet watter pasiënte is moontlike kandidate om deel te word van Reach for a Dream en hulle kan die organisasie daarvan laat weet.

Indien ʼn kind as kandidaat oorweeg word, word daar ʼn deeglike assessering gedoen. Die kind moet ʼn vraelys voltooi en daar word ook gevra wat die kind se grootste wens is. Wanneer die wens geïdentifiseer is, moet daar borge gekry word.

Helene sê enige kind van drie tot agt jaar wat ly aan ʼn lewensbedreigende siekte, kwalifiseer om deel te word van Reach for a Dream en enigiemand vanuit die gemeenskap kan hulle kontak.

Die droom van die kind wat deur middel van Reach for a Dream bewaarheid word, sluit gewoonlik ʼn uitstappie en ʼn geskenk in, sê Helene. Sommige kinders het groot drome soos byvoorbeeld ʼn helikopterrit wat dan as hulle “geskenk” oorhandig word.

Daniël se droom is Vrydagmiddag bewaarheid toe hy ʼn Nintendo-speletjie kompleet met sy eie aparte skerm ontvang het. Hy was sprakeloos van dankbaarheid en opgewondenheid en kon nie wag om te begin speel nie. Die speletjie het ook ʼn klein skerm soos ʼn tablet wat baie handig te pas sal kom wanneer hy ure in die hospitaal deurbring om bloedoortappings te kry.

Daniël se ouers, Willie en Jeanette Beetge, doen ʼn beroep op die gemeenskap om bloed te skenk – “daar is mense wie se lewe daarvan afhanklik is”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.