Daniel se fiets is terug — “dit gee mens hoop vir die toekoms”

LEPHALALE — Daniel Leahy (11), ʼn leerder van Laerskool Bosveld Primary se rooi PLANET-fiets is Vrydag 26 Januarie tydens ʼn skole-atletiekbyeenkoms by Mogolklub gesteel.

Sy ma, Ansu, het dadelik in ʼn plasing op ʼn sosiale mediaplatform die volgende geskryf: “My seun Daniel se rooi PLANET-fiets is Vrydag by Mogolklub gedurende die sportbyeenkoms gesteel. Hy ry elke dag skool toe met sy fiets – dit was nie net ’n speelding nie. Steel is so selfsugtig – leer tog vir jou kind om te dink hoe dit vir die “victim” voel?

Wat my meer ongelukkig maak is dat daar êrens ’n kind huis toe gekom het met ’n fiets wat nie syne is nie… en die ouers doen niks daaraan nie. Vat dit terug skool toe asb?”

Ansu sê hulle is baie dankbaar teenoor dr Christine Fuls wat vir Daniel ʼn fiets geleen het om mee skool toe te ry.

Intussen het Karen Meyers van Laerskool Bosveld Primary oral rond gebel en met van die leerders gepraat om te hoor of iemand ʼn idee het wat van die fiets geword het. Die weergawes van die leerders het verskil, wat dit nog moeiliker gemaak het om vas te stel wie vort is met die fiets.

Vrydagoggend bel Me Kekana, skoolhoof van Nelsonskop Primary, na Laerskool Bosveld om te sê ʼn ouer van een van haar leerders het die fiets skool toe gebring en gesê haar kind het dit gesteel. Dit was Daniel se fiets.

Ansu sê baie dankie aan daardie ma wat sterk genoeg is om te erken dat haar kind ook foute maak. “Dit is seker een van die moeilikste dinge om te erken jou kind het ʼn fout gemaak. Dit gee mens weer hoop vir die land se toekoms,” sê sy.

Me Kekana se foon was teen druktyd afgeskakel – sy kon dus nie vir kommentaar bereik word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.