Dawid verloor ringvinger — 3 weke later

BULGERIVIER — Dawid du Plessis, die vyfjarige seun wat op 23 Januarie vanjaar deur ʼn Mosambiekse spoegkobra in ’n bed op die vloer in sy ouerhuis in die Bulgerivieromgewing gebyt is, se linker-ringvinger is Sondag 11 Februarie in die Netcare Montana Hospitaal in Pretoria geamputeer.

Dawid raak nou bietjie keelvol, maar elke dag is ʼn stap nader aan herstelin

Mogol Pos het Dinsdagoggend, presies drie weke na die voorval, met sy ma, Retha, gepraat en sy sê hulle beskou elke dag as ʼn stappie nader aan herstel. “Hulle het nie ʼn keuse gehad as om sy vinger te amputeer nie, sy gewrig en kneukel was verwoes deur die gif,” sê sy.

Die vel aan die onderste deel van die geamputeerde vinger kon wel gebruik word om 70% van die wond toe te maak.

Dawid sou teen druktyd weer Woensdag 14 Februarie teater toe gaan vir wondsorg en indien alles volgens plan verloop sal hy daarna moontlik vir 10 dae ontslaan word waarna die steke verwyder moet word.

“Ons mag wel nie teruggaan ‘huis’ toe nie, want Dawid moet elke tweede dag hospitaal toe gaan vir wondsorg, maar ons bly by vriende naby aan die hospitaal wat vir ons ʼn woonstel op hulle erf ‘leen’ vir so lank as wat dit nodig is,” sê Retha.

Sy sê dit gaan goed met Dawid maar hy raak nou bietjie “keelvol”. “Ons sukkel met die drup, dit maak hom baie seer, maar hopelik kan hy binnekort vir ʼn paar dae daarsonder funksioneer,” sê Retha.

(Sterkte dapper Dawid en Phillip en Retha – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.