Die beste spa is Aloe Day Spa

LEPHALALE — Aloe Day Spa (ADS) het weer eens bewys dat die Bosveld nie ʼn tree hoef terug te staan vir hulle mededingers in die stad nie.

Agter v.l.n.r.: is Arona Rossouw, Thando Seloane, Boitu Seloane, Zola Cossa, Zené van der Merwe, Selina Nkoe, Sorinca Buitendag en voor Anneke Rossouw, Ulizne Kitching-Nel en Tahlita Rossouw

Dié spa is Saterdagaand 19 Mei tydens ʼn gala-dinee by The Venue in Melrose Arch as die top-spa in die land aangewys tydens die “The Spa Consultants, Spalicious and Six”-toekenningsaand. Die spa was genomineer vir twee toekennings, naamlik “Professionalism” en “Top-Spa”.

Vier van ADS se terapeute is boonop genomineer as finaliste in hulle onderskeie spesialiskategorieë.

 Volgens Arona Rossouw, mede-eienaar van Aloe Day Spa, was die kompetisie groot. “Sowat 300 spa’s en salonne was deel van die kompetisie en ons moes meeding teen gevestigde spa’s wat al jare in die bedryf is met dubbel die hoeveelheid terapeute. Ons was verras dat ons hoegenaamd as finalis benoem is,” sê Arona.

Arona sê die kriteria waarvolgens die beoordeling gedoen was is professionaliteit, passie, besigheidsuitnemendheid, produkaankope, personeeluniforms en voorkoms, die webblad se “look and feel”, die verskeidenheid behandelings en die produk- en behandelingsbrosjure se ontwerp en voorstelling.

Beoordelaars het die spa besoek en geskakel as “geheime gaste” en dit volgens hulle ervaring beoordeel.

“Behalwe dat ons aangewys is as die Top-Spa, het die terapeute ook uitgeblink. Vier terapeute was genomineer as finaliste, maar Ulizne Kitching-Nel is uiteindelik as wenner aangewys as top-terapeut in die kategorie gesigsbehandelings en produkte. Boitu Seloane, Zola Cossa en Selina Nkoe was elk finaliste in hulle onderskeie kategorieë.

Die kriteria waarop terapeute geëvalueer word is passie, verhouding met kliënte, aktief betrokke by bemarking op sosiale media, opleiding op datum (tegnieke, produkkennis) en verkope van produkte.

Na ʼn besige naweek het Mogol Pos die geleentheid gehad om met Arona te gesels. “Die idee om ʼn spa te hê was nog altyd ʼn droom, maar ek het nooit besef hoeveel ure, harde werk en deursettingsvermoë die bedryf van jou eis nie. Dit is ‘tough’ en vir ons wat heeltemal nuut is in die bedryf en dit boonop in ʼn dorp waar mense ʼn spa beskou as ʼn luukse en nie ʼn leefwyse nie! Ons moes regtig vreeslik hard werk om te bereik wat ons bereik het en ek is meer as trots op die span van Aloe Day Spa wat stof in die ander se oë geskop het. Dit is lekker en maklik om ʼn droom te hê, maar om dit ʼn realiteit te maak en ʼn sukses daarvan te maak is ʼn heel ander storie.

Sonder ʼn toegewyde span terapeute en ʼn goeie bestuurder is dit onmoontlik. Aloe Day Spa se span is die héél beste – en dit is nie net ek wat so sê nie, die toekennings bewys dit,” sê ʼn dankbare, trotse Arona.

Die ander spa’s wat genomineer was is Arabella Spa (Wes-Kaap), Champagne Spa (Drakensberg) en Camdeboo Day Spa (Irene).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.