Diefstal, aanranding — PNA in die spervuur

LEPHALALE — Die 16-jarige seun wat Donderdag 30 November na bewering deur ʼn veiligheidswag van Lephalale Square aangerand is, het volgens een van die eienaars van die PNA aan hulle erken dat hy goedere uit die winkel gesteel het.
Volgens ʼn werknemer by die winkel was dié seun na bewering Dinsdag 28 November (nie Maandag 27 November soos in Nasionale Media berig nie) in die winkel en het hy na ʼn rukkie uitgestap. Sy sê ʼn ruk daarna was die seun weer daar, dié keer met ʼn ander hemp en ʼn pet op sy kop. Dit het haar opgeval dat hy ander klere aan het. Winkelpersoneel het onraad vermoed toe hulle ʼn rukkie nadat hy weer by die winkel uit is, leë boksies op die winkelrakke kry. By nadere ondersoek is hulle vermoedens van diefstal bevestig.
Donderdag 30 November het van die personeel hom buite die winkel gesien en ʼn werknemer geroep. Die kind het intussen omgedraai en oor die pad in die rigting van Bosveld Motors begin hardloop. Sy het om hulp geroep waarop lede van die publiek agter hom aangehardloop het. Intussen het een van die ander winkeleienaars in Lephalale Square ʼn sekuriteitswag gebel van Scorpion, die sekuriteitsmaatskappy deur Lephalale Square aangestel. Volgens inligting het hy die seun oorkant die pad gaan haal en hom na die winkel geneem.
Die twee eienaars van PNA was op daardie stadium in die bank en van die werknemers het hulle geskakel. Volgens een van die eienaars het die polisie vier minute nadat hulle by die winkel aangekom het opgedaag en die seun saam met hulle polisiestasie toe geneem. Daar was reeds Dinsdag ʼn saak van diefstal geopen.
Volgens die eienaar het die seun aan hom erken dat hy ʼn eksterne hardeskyf gesteel het, maar ander items waar onder “stereo charger” oorfone, ʼn “drone quadcopter” en ʼn magnetiese “air vent” met ‘n totale waarde van ongeveer R3 000 word ook vermis. Adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale SAPD het aan Mogol Pos bevestig dat die polisie van die gesteelde goedere by die kind se huis gekry het.
Volgens Mokoena het die polisie die kind se pa gebel nadat hulle by die stasie aangekom het omdat die kind minderjarig is.
ʼn Saak van diefstal is teen die kind geopen en ʼn saak van aanranding is teen ʼn sekuriteitsbeampte van Lephalale Square geopen.
Mogol Pos het bevestiging dat albei PNA-eienaars in die tyd van die beweerde aanranding nie by die winkel was nie. Teen druktyd was die sekuriteitsbeampte nog nie geïdentifiseer nie en was die kind volgens berigte by sy oom in Ierland.
Alle navrae aan die minderjarige se pa is na sy prokureur verwys.
Beide PNA-hoofkantoor en die sentrumbestuur van Lephalale Square sou deur middel van mediaverklarings op bogenoemde reageer maar teen druktyd was nog niks ontvang nie.
‘n Persverklaring wat op Vrydagaand 1 Desember deur PNA-hoofkantoor uitgereik is, is beskikbaar op die PNA-webblad
www.pna.co.za/blog/.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.