Dít ráák eiendomspryse!

LEPHALALE — Dit het tydens die Lephalale Going Green (LGG) se vergadering wat Donderdag 20 Februarie gehou was duidelik geword dat die gemeenskap daadwerklik betrokke moet raak by dié inisiatief vir ’n skoner en groener dorp.

Die probleme word groter en die geld minder. Joe Meyer, voorsitter van LGG, het dit beklemtoon dat ’n inklusiewe benadering sosiale investering teweeg bring. Die dorp bestaan nie net uit gegoede woonbuurte nie, aangesien arm gemeenskappe ook deel van die dorp uitmaak.

LGG se doelwit is om ’n waardegedrewe benadering te volg en dat almal sal hande vat om dit werkbaar te maak. Wat inwoners dalk nie besef nie is dat eiendomspryse negatief geraak word indien die dorp nie op standaard is nie.

Daar word ’n spesiale vergadering beplan vir 20 of 26 Maart en LGG doen ’n ernstige beroep op alle inwoners om dié belangrike vergadering by te woon. Tydens dié vergadering sal die omkeerstrategie van Fichardtpark in Bloemfontein aan inwoners voorgehou word. Fichardtpark se eiendomspryse het beduidend gestyg nadat die inwoners eienaarskap van die dorp geneem en dit omskep het in ’n voorstad waar mense graag wíl woon. Dit is dus voor die hand liggend waarom inwoners betrokke moet raak. Nooi jou bure en woon asb die vergadering by. Mogol Pos sal die plek en tyd aan inwoners kommunikeer.

Verder is herwinning meer as ooit beklemtoon. Plaas gerus jou herwinbare afval in ’n aparte sak, verkieslik deurskynend, en sit dit saam met jou huisafval uit op straat op die dae van verwydering. Herwinbare afval is papier en karton, plastiekbottels, melkbottels en -bokse, koeldrank- en bierblikkies, glas en metaal, ens. Die vullisverwyderaars sal die sak met herwinbare afval stortingsterrein toe neem waar kollekteerders dit sorteer vir ’n inkomste of indien jy weet van iemand wat herwinbare afval in die strate kollekteer, kan dit gerus met hulle gereël word.

Waarom doen ons dit? Want dit is die regte ding om te doen. 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.