Douw ’n bittereinder

LEPHALALE — Douw Oosthuizen is in 1999 en in 2018 met velkanker gediagnoseer en het intussen reeds vier operasies gehad om die velkanker te verwyder.

’n Positiewe Douw Oosthuizen

Hy was juis Donderdag 4 Junie in Pretoria waar dermatoloë, drs Du Plessis en De Wet, vyf kankergroeisels aan die been, arm, nek en neus verwyder het. Maar dit is nog nie die einde nie, alhoewel Douw sê hy is nou oor die hond se stert wat die behandeling aanbetref, is daar nog ’n kankergroeisel op sy rug wat verwyder moet word, maar daar word terselfdertyd beplan om ’n vel van Douw se oor te verwyder en sy oog daarmee reg te maak.

Douw praat met groot lof van dié dokters. Hy bedank ook vir Jan Bester wat hom heen en weer Pretoria toe en terug gery het. Hy bedank ook almal wat hom bemoedig het, veral wanneer hy wou tou opgooi en vir Johan en Vera du Preez van Matimba Apteek wat hom gehelp het met pleisters en natuurlik KANSA vir hul hulp.

Douw sê dat hy deur hierdie kankerbehandeling besef het hoe goed die gemeenskap is en dat daar nog vele mense met omgeeharte is. Maar hy waarsku bosvelders om voorsorg te tref as hulle in die fel bosveldson werk en hengel – Douw se gunsteling tydverdryf.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.