Dr Mariëtte op presies die regte plek

LEPHALALE — Dr Mariëtte Emslie is tuis in haar nuwe kantoor by Mediclinic Lephalale. Sy het op die regte tyd in haar lewe die regte besluit geneem. Haar nuwe uitdaging as hospitaalbestuurder van Mediclinic Lephalale pas haar soos ’n doktershandskoen.

Sy mis haar pasiënte, maar werk steeds met pasiënte, net nie meer as algemene praktisyn nie. En ja, haar “ou” pasiënte sukkel soms om te aanvaar dat sy nie meer hulle dokter is nie.

Op die vraag wat sy graag sou wou verander noudat sy in die bestuurderstoel sit, sê sy dat sy onder andere graag meer permanente spesialiste by Mediclinic wil hê sodat pasiënte nie altyd stad toe hoef te ry nie. ’n MRI-skandeerder sal ook baie help!

“Wat ek baie graag wil doen en wat ek nie kan doen nie, is om die kamers groter te maak”, sê sy. Alhoewel daar nie aan die struktuur van die hospitaal verander kan word nie, het sy egter reeds ’n spasie by die kraamsaal laat inrig vir ’n borsvoedkamer sodat nuwe ma’s hulle eie spasie kan hê.

Nog ’n plan op haar lys is om die binnehof in te rig sodat familie of ouers daar kan sit en ontspan terwyl hulle byvoorbeeld wag vir iemand om uit die teater te kom. “Ons kan dit self doen sonder dat dit ’n groot ekstra uitgawe is en ek dink dit gaan ’n groot verskil maak,” verduidelik sy.

Dr Mariëtte praat met groot lof van haar personeel en sy wil hê almal moet weet haar deur is altyd oop.

“As daar iemand is wat klagtes het oor die hospitaal wil ek graag hê hulle moet my eerder kom sien of aanlyn op Mediclinic se webtuiste ’n briefie invul. Moet dit asseblief nie anoniem doen nie, want dan kan ek dit nie opvolg nie. “Ek moet hulle kan bel en vra wat die probleem was. Ek moet weet wie was aan diens. Ek moet weet wat die spesifieke probleem was sodat ek dit spesifiek kan uitsorteer en seker maak dat dit nie weer gebeur nie. As jy ’n anonieme boodskap los is dit onmoontlik om die probleem uit te sorteer.

“As jy ’n klagte op Facebook plaas sweep jy net die mense op en verder help dit niks nie,” sê sy.

Mediclinic is ’n internasionale maatskappy met hospitale op verskillende plekke in die wêreld soos Dubai en Switserland. Press Ganey, ’n internasio-nale maatskappy, verwerk die hele Mediclinic-groep se aanlynkommentaar oor pasiënttevredenheid. Die statistieke wat deur dié maatskappy verwerk word, word eers na Mediclinic SA toe gestuur, dan na die verskillende streke en dan na spesifieke hospitale. Dit is ’n manier om te sien hoe jou hospitaal vergelyk met ander.

Dr Mariëtte is baie trots daarop dat Mediclinic Lephalale se algemene telling 86% is. Die standaard is 80%. Sy spog en sê vandat Mediclinic Lephalale geopen het, het die punte-telling stelselmatig verbeter.

Sy sluit af deur die gemeenskap te herinner aan Mediclinic se waardes – kliënt-georiënteerd, betroubaar en respekvol, gefokus op pasiënte, presta-siegedrewe en spangeoriënteerd.

“Daar waar ons kán verbeter, sal ons graag wil verbeter!”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.