“Dra jou kroon”

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die Ester Bosveldkonferensie wat Saterdag 7 Mei by UNICO Safaris buite Lephalale aangebied is, met spreker Elza Meyer van Turn to God, was ‘n oggend propvol inspirasie.
Tania Kaiser, eienaar van UNICO, het twee jaar gelede ‘n visie gehad van ‘n markiestent wat op haar plaas opgeslaan is waarbinne vroue bedien word. Die saadjie is geplant en sy sê baie mense het saam met haar gebid om dié geleentheid ‘n werklikheid te maak.
Elza se hoofboodskap was dat vroue hulle krone in die samelewing moet dra en die Woord moet uitdra waar hulle gaan. “Jou lewe moet getuig van wie jy is in Hom” het sy gesê.
Vroue uit verskillende denominasies met verskillende lerings het die geleentheid bygewoon en die algemene gevoel was dat al verskil mens oor sommige dinge, dien almal steeds dieselfde God. Ria Botha het die geleentheid bygewoon en sy sê die lofprysing was werklik besonders. “Vroue wat saam die Here prys bly mooi – veral in die stilte van die natuur” sê sy.
Die vroue het stilgestaan en in mekaar se oë gekyk. Nuwe vriendskappe is gesmee.
Ria sê dit was ‘n besondere dag wat sy nog lank sal onthou. “Mag ons elkeen Sy geur versprei – in ons daaglikse wandel, in ons huise en oral waar ons gaan” sê Ria.
Valerie Cilliers, een van die organiseerders, sê dit was vir haar persoonlik ‘n lewensveranderende ervaring en moontlik die eerste van nog baie sulke geleenthede.
Ansu Leahy, wat ook die geleentheid bygewoon het sê dit was ‘n heerlike geestelike ervaring en wonderlik om deel te kon wees van ‘n groep vroue wat die Here dien, soek en beter wil leer ken. “Die hoofpunt van die dag wat my bybly is dat ons moet word wat ons reeds weet is waar. Ons ken reeds die Bybelse beginsels waarvolgens ons moet (en wil) leef – ons moet dit nou begin word. Wat ‘n inspirerende dag” sê Ansu.
Die algemene gevoel was dat niemand kan wag vir 2017 se Ester Bosveldkonferensie nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.