“Drome” — Bossiekonsert ’n fees

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary se konsert wat van Maandag tot Donderdag (17-20 September) aangebied was, het die gehoor elke aand op hulle voete gehad.

Die kinders het met oorgawe meegedoen

Met die tema “Drome” het die drie booswigte van “Onkruid Enterprises”, naamlik Vaalbos (Ruan Mostert), Haakbos (Liam Lemboe) en Kakiebos (Eduan Mostert), probeer om hulle “app”, wat kinders nie meer laat droom nie maar heeldag vasgenael voor hulle rekenaar- of televisieskerms laat sit, aan die skool te verkoop.

Droomfee (Lanelle Vermaak) en haar helpers, Perse (Zoë Elenis) en Vera (Manja Labuschagne) en al die droomwewers en kabouters slaag egter daarin om ’n stokkie daarvoor te steek.

Die goeie oorwin en kinders wil weer leer om te droom!

Leerders van graad R-7 was deel van die konsert en dit was duidelik dat hulle elke oomblik geniet het.

Dit was ʼn heerlike eg Bosveldse aanbieding en die skerp kwinkslae oor onder andere Grootegeluk, steenkool, die Guptas en Klaas Vakie, het die gehoor deurgaans laat skater.

Corné de Swardt en Cindy Elenis het die toneelstuk geskryf en vertaal en hulle het die toneel in samewerking met Mercia Joubert afgerig. Die sang is deur die graadonderwysers gedoen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.