Drotskie-verdagtes bekend

Leoni Kruger
TOM BURKE — Mogol Pos het verlede week berig dat vyf verdagtes gearresteer is in verband met die huisbraak, diefstal en onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die voorval was op die plaas Speculatie van Francois en Irmi Drotskie en dit het tussen 8 en 9 Julie plaasgevind. Die Drotskies was nie tuis nie.
Die verdagtes het ‘n staal- en muurkluis oopgesny en vier gewere, ‘n Isuzu dubbelkajuitbakkie en vier plasma TV’s gesteel. Die Isuzu en TV’s is later op ‘n verlate pad naby die plaas gevind.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale SAPD is die vyf verdagtes, Tinnel Makhina (32), Tatenda Mathotho (20), Wellington Ngwenya (28), Andrew Buzuzi (50) en James Mashuku deur Tom Burke SAPD en lede van die Heritage Protection Group (HPG) naby Modimolle in die Phahameng informele nedersetting gearresteer.
Volgens Sakkie Louwrens van HPG het James Mashuku seker gemaak die ander verdagtes het toegang tot die plaas deur die hekke oop te sluit. Mashuku was ten tyde van die voorval ‘n werker op die plaas. Buzuzi het die Mahindra bestuur waarmee hulle met hul buit weggekom het.
Al vyf verdagtes het Vrydag 21 Julie in die Landdroshof in Witpoort voorgekom op aanklagte van diefstal, huisbraak en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die saak is uitgestel na Donderdag 27 Julie wanneer hulle in die Landdroshof in Modimolle sal voorkom. Teen druktyd was die uitslag van die hof nog nie bekend nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.