EHS by top-10-atletiek

LEPHALALE — Menige skole van verskeie provinsies het Vrydag en Saterdag, 4 en 5 Oktober, in Mookgophong (Naboomspruit) saamgetrek vir ’n top-10-skole-atletiekbyeenkoms, naamlik die Elardus Erasmus-gedenkbyeenkoms.

Hoërskole soos Potchefstroom Gimnasium, Garsfontein, Affies, Helpmekaar, Menlopark, Zwartkop, Monnas, Oos Moot, Dr Malan, Nelspruit, Eldoreign, Rob Ferreira Witrivier, Piet Potgieter en ander het meegeding om die gesogte eerste plekke.

Atlete van Hoërskool Ellisras het strawwe kompetisie gehad, maar uitstekend gevaar.

Tsepang Dankuru (seuns o. 14) behaal ’n tweede plek uit 21 atlete in hoogspring met ’n hoogte van 1.75 meter, Jan du Plessis (seuns o. 16) behaal ’n tweede plek in die 400 m,
Bianca Nel (dogters o. 17) behaal ’n derde plek in die 200 m, Tokkie de Beer (seuns o. 17) behaal ’n derde plek in die 400 m-hekkies en Nico Snyman (seuns o. 19) behaal ’n derde plek in die 200 m.

Hoërskool Randburg wen die dogterskompetisie met Hoërskool Menlopark se dogters in die tweede plek.

Die Hoër Afrikaanse Seunskool se seuns word as die wenners aangewys met die seuns van Prestige Boys in die tweede plek.

Die Rassie Rhinoatletiek-byeenkoms word Vrydag 11 Oktober by die skool aangebied.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.