EHS groet 3 geliefde onnies

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras groet vanjaar drie geliefde onderwysers – Salomè Heath tree af, Linda Aucamp pak ‘n nuwe uitdaging aan en Cherylize Janse van Rensburg groet Suid-Afrika.
Salomè Heath het 1 April 1990 as Afrikaanse Departementshoof by Hoërskool Ellisras begin werk.
Salomè sê goeie matriekuitslae is altyd vir haar ʼn groot hoogtepunt. Met reg, want haar Afrikaanse leerders was menigmaal die beste in die Waterbergdistrik en Limpopo.
Salomè was ook sinoniem met Lourierfunksies – ʼn enorme taak wat sy met passie en presisie gedoen het.
Haar buitemuurse aktiwiteite was swem en tennis en die swemspan wat sy afgerig het was op ’n stadium die top 10-skolewenners. Salomè sê dit is verrykend dat sy vriendskapsbande kon smee met van haar leerders se ouers. Vir haar is skoolhou ʼn voorreg en sy het nie net ʼn passie vir haar vak gehad nie, maar ook vir haar leerders en kollegas.
Salomè was vanaf 1996 hoofnasiener en eksaminator vir Afrikaans Huistaal (vroeër anders genoem) en sy beskou dit as ʼn groot voorreg.
Sy het ‘n wonderlike sin vir humor en haar teenwoordigheid skep gou ʼn opgeruimde atmosfeer. Salomè is bekend daarvoor dat sy juis aanklank gevind het met die meer “lewendige” leerders en dat sy die beste in hulle na vore bring.
Salomè is ’n strydros wat vir almal ʼn voorbeeld kan wees hoe om met grasie by die uitdagings van die lewe aan te pas. By haar wederhelf wyle Anton Heath se begrafnis ʼn paar jaar gelede het sy kinders haar bedank vir wonderlike jare wat hulle pa saam met haar kon deurbring en veral dat sy hom so deugsaam versorg het.
Salomè sien uit na haar aftrede en om sorgvry die Kaap plat te reis en by vriende te kuier.
Die skool wens haar nog baie geseënde en gesonde jare toe.

As mens aan Linda Aucamp dink, dink jy aan die oortreffende trap! Aan iemand wat vreeslik lojaal is en die ekstra myl hardloop sonder dat jy gevra het. As sy gevra is om betrokke te raak by ’n funksie, het dit soos ’n Oscar Gala-aand gelyk. As sy toesig gehou het in ’n lokaal het sy aarbei-asblikkies vir elke ry gekoop en stringe blommetjies opgehang met vlinderplakkers net waar jy kyk. Nadat sy die hele lokaal skoongemaak het – so skoon dat jy van die vloer af kan eet.
Linda se klaskamer het soos ’n sitkamer gelyk en natuurlik het sy haar klas se vloer geteël. Dit is geen wonder dat die leerders so lief vir hulle juffrou was nie.
As die opstelonderwerp was oor “iemand wat jou lewe verryk het”, skryf die kinders oor juffrou Linda.
Sy was 24 jaar by EHS en verbonde aan die Afrikaanse Departement en was ook vakhoof by Lewensoriëntering.
As mens Linda se hoogtepunte moet uitlig is dit vir seker haar moeite met die dirigente. Sy het nagte en vingers deurgewerk aan hulle klere en EHS se dirigente was vir baie jare lank die sterre by die Interhoër.
Thomas, wat die afrolwerk van die skool hanteer, sê hy neem baie swaar afskeid van “Blondie”. Hy vertel hoe hy haar langs die atletiekbaan aangemoedig het toe sy self nog in die skool was.
Linda kon die lekkerste eetgoed voorsit! Haar kolwyntjies was skeppings enig in hul soort.
Toe Linda se jongste dogter in haar eerste jaar was by die Pukke, het Linda Portchefstroom toe gery met ʼn mega-verjaarsdagkoek vir die koshuis se Primaria. Haar mense stem almal saam – sy is ’n ouma uit die hemel en ’n vriendin sonder weerga.
Linda is baie lief vir haar “Aucampie” en koop geduldig krieke vir sy bobbejaanspinnekoppe om te eet.
Linda is ’n voorbeeld vir almal oor hoe om die lewe bloedneus te slaan en met passie ten volle te leef – haar joviale lag wat so maklik kom, sal baie gemis word.
Linda se toekomsplanne sluit ʼn gastehuis in Glentana in (naby Hartenbos) en met haar aan die stuur, gaan dit waarskynlik die Gastehuis van die Jaar wees.
Mag Linda baie walvisse en dolfyne uitbundig en hoog sien spring, die seelug inasem en rooiwyn drink!
Die skool se beste wense vergesel haar.

Cherylize Janse van Rensburg (néé Pieterse) was vanaf 2010 tot 2017 by Hoërskool Ellisras. In dié tyd het sy en Willem, haar man, twee dogtertjies ryker geword.
Hulle verhuis in Desember vanjaar om in Nieu-Seeland te vestig.
Sy sê elke jaar by EHS was vir haar ʼn hoogtepunt. Om te sien hoe haar leerders emosioneel en intellektueel groei was ’n voorreg. Een van die groot hoogtepunte was toe haar graad 9-leerders deelgeneem het aan die Bio-Science Olimpiade en sewende in Suid-Afrika geëindig het. Sy was ’n Wetenskaponderwyser van formaat.
Nog ʼn hoogtepunt is haar noodhulpspan wat groei tot 58 leerders waarvan 15 leerders tot by vlak 3 gekwalifiseer het. Cherylize se loopbaan by EHS het haar geleer hoe medepersoneellede saamwerk soos een groot familie. Al die kosbare sêgoed en waardevolle raad sal haar lewe lank by haar bly.
Sy is bekend daarvoor dat sy haar twee dogtertjies opdollie soos nét sy dit kan doen. Haar kollegas sê as hulle die hoof se arm wou draai het hulle vir Cherylize gestuur! Hulle beskryf haar as ʼn dierbare vriendin wat enige geleentheid kan opvrolik.
Die skool se beste wense vergesel hulle op hulle nuwe toekomspad.

 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.