Ekstase in ʼn Aston Martin

LEPHALALE — Tom Strydom is ʼn man van min woorde. Vra jy hom egter uit oor sy onlangse 20 minute-rit in ʼn Aston Martin GT4 op Jas Marina, die Formule 1-renbaan in Abu Dhabi, dan loop hy oor van byvoeglike naamwoorde om sy ongelooflike ervaring te beskryf.
Tom se vorige kuier in Abu Dhabi was in 2013. Sy kinders, Tommy en Chantal, woon al die afgelope vyf jaar daar. “Ons het daardie jaar die Grand Prix gaan kyk en toe merk ek op dat ‘gewone mense’ kan bespreek om die baan in ʼn Formule 1-voertuig van jou keuse uit te toets,” sê Tom. Hy het dit aan Tommy genoem dat hy dit darem baie graag eendag sal wil ervaar.
Tom het vanjaar van 20 Oktober tot 4 November weer vir die kinders in die verre land gaan kuier en na sowat ʼn week se kuier breek hulle een aand die nuus dat hulle vir hom dié ervaring wil gee en reeds sy plek bespreek het. (Dié geskenk kos R10 000 vir 20 minute se ry, ʼn video van die ervaring en versekering).
Tom sê dit is onmoontlik om te beskryf wat deur sy kop gegaan het – “ek het net in trane uitgebars”.
Op die dag van die wedren word daar aan alle deelnemers verduidelik presies wat al die merkers en tekens op en om die baan beteken, waarna jy jou valhelm en “gesigkombersie” kry. En dan wag jy jou beurt af …
Tom lag net op die vraag hoe vinnig hy gery het. “Ek het net een keer geloer en toe lyk dit na 197 km/h. Alles gebeur so vinnig daar is nie tyd vir rondkyk nie. Mens ken ook nie die baan se draaie en kinkels nie. Op ʼn stadium binne dié 20 minute het die gedagte vlugtig deur my kop gegaan dat dit regtig EK is wat in ʼn Aston Martin op die JAS MARINA ry. Dit het nie werklik gevoel nie,” sê Tom, steeds oorweldig.
Een van die dinge wat hom beïndruk het is die ongelooflike padhouvermoë van die voertuig. “As ek voel ek moet nou rem dan wys hulle vir my ‘go go, no brake’. Teen daardie tyd het dit vir my gevoel as ek nog vinniger ry gaan die voertuig omval,” sê hy.
Tom sê hy het nog altyd van motorwedrenne gehou en kyk al vir jare die Grand Prix, maar toe hy verlede Sondag die Grand Prix kyk en hy herken van die draaie op die pad, het hy besef dit sal nooit weer vir hom dieselfde wees nie.
“Dit was ʼn lewensveranderende ervaring en as ek dit môre weer kan doen, sal ek,” sê Tom.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.