Frans Troskie — “ʼn Engel pas hom op”

Frans Troskie, altyd vol stories en grappe

LEPHALALE — Frans Troskie (57), het Saterdag 25 Mei in die stort by sy huis inmekaargesak. Sy geliefde hond, Chicco, het hom in die gesig gelek en Frans het bygekom, sy klere aangetrek en vir Sandy, sy vrou, gaan vertel wat gebeur het. Hy het vir haar gesê hy dink hy moet dokter toe gaan.

Frans is vir twee dae in Lephalale Mediclinic opgeneem en volgens Sandy het hulle “alles getoets wat hulle kon”. Daar was niks verkeerd met sy lewer of niere nie en sy cholesterol, waarmee hy vroeër probleme gehad het, was normaal. Maar Frans se hoofpyn wou nie wyk nie en hy is per ambulans oorgeplaas na Unitas Hospitaal in Centurion, sodat daar ʼn breinskandering gedoen kon word.

Sandy het dieselfde aand bevestiging ontvang dat daar ʼn aar in sy kop gebars het wat bloeding op die brein veroorsaak het. Die dokters moes opereer, want die aar het ʼn blasie gevorm wat enige tyd kon bars.  

Die dokters het bevestig hy het ʼn aneurisme gehad.

“Voor die operasie het hy baie pyn gehad en die medikasie het hom soms naar laat voel. Sy hoofpyn het gebly. Na die operasie het die dokters hom vir ʼn week in ʼn geïnduseerde koma gehou sodat die pyn en swelling van die brein en die linkerkant van sy lyf kon verbeter,” verduidelik Sandy.

Frans was vanaf 26 Mei tot en met druktyd in die Multi-intensiewesorgeenheid (MISE) by Unitas.
 Teen druktyd het Sandy ook laat weet dat hy volgens alle aanduidings binnekort oorgeplaas sou word na die Hoësorgeenheid waarna hy met rehabilitasie sou begin. Sy linkerkant is traag, maar hy kon wel alles beweeg. “Hy oefen al baie hard en kry twee tot drie keer per dag fisioterapie,” sê sy.

 Sandy, wat deurentyd aan Frans se sy is, sê dié voorval het beslis Frans se lewe verander – hy was ʼn baie strawwe roker en as gevolg daarvan herstel hy baie stadiger as wat ʼn nie-roker sou herstel.

Die Troskies bedank die volgende individue/instansies:

Die personeel by Mediclinic sowel as dr Joubert vir hulle vinnige optrede wat verseker het dat die aneurisme gou opgespoor kon word; dr Azhar, die breinchirurg wat hom geopereer het en selfs sy selfoonnommer vir Sandy gegee het sodat sy hom enige tyd in die hande kon kry; Ilse Muller (Sandy se sus) vir ʼn veilige hawe in Pretoria en haar ongelooflike ondersteuning; Frans se ouers, Neels en Hes Troskie, wat Frans se kamp in stand hou, na sy beeste kyk en boonop elke naweek in Pretoria is om by Frans te kuier; Vanessa en Franco, Frans en Sandy se kinders was albei besig met eksamens en hulle het onder moeilike omstandighede deurgedruk en hulle beste gegee; laaste, maar nie die minste nie, is die familie dankbaar dat die Here Frans se lewe gespaar het.

Sandy meen Frans het ʼn Engel wat hom spesiaal oppas.

“Hy was in standerd 7 in ʼn motorongeluk waar ʼn bakkie op sy kop geval en hy onder die bakkie beland het. Frans se pa, Neels, het die bakkie met bomenslike krag opgetel en Frans met sy voet uitgeskuif na veiligheid; Frans en sy jonger broer het eens hul vliegtuig in ʼn boom “geland” en dit oorleef; was dit nie vir Frans se vinnige optrede met ons plaasaanval nie, was ons albei lankal dood – hy is met ʼn lang mes deur sy long gesteek en verskeie kere met ʼn panga oor die kop gekap, maar het dit oorleef en ten volle herstel.

“Dié keer is ek seker dat hy weer ten volle gaan herstel,” sê Sandy.



Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.