Geen reaksie

LEPHALALE — Wat het geword van Molalatau Sekuriteit (MS)? Lewer hulle nog ʼn diens?

Dié vraag is die laaste tyd deur menige ontstoke MS-kliënt aan Mogol Pos gevra.

Mogol Pos is self ʼn kliënt van MS en het nadat die kantoor se alarm op 11 April voor 08:00 verskeie kere getoets is, is tot die gevolgtrekking gekom dat MS nie reageer nie. Hulle het geen reaksievoertuie uitgestuur of oproepe gemaak nie.

Die voorsitter van die GPF in Lephalale, Thys Eloff, was nie bewus daarvan dat MS blykbaar nie meer ʼn diens lewer nie.

Na aanleiding van bogenoemde het Mogol Pos MS besoek. Hendrik Monyeki, Algemene Bestuurer by MS, het Mogol Pos buite die kantore ontvang en op versoek om die beheerkamer te sien, die dame wat die beheerkamer moes beman elders gaan haal waarna almal na die beheerkamer is. Dit was wel op die rekenaarsisteem aangedui dat Mogol Pos se alarm geregistreer het, maar daar is net niks daaromtrent gedoen nie.

Monyeki het egter met die aankoms aan Mogol Pos se verslaggewer bevestig dat MS se kantore aan die einde van April 2018 gaan sluit “omdat hulle nie meer kan aangaan nie”.

Die kontaknommers wat op MS se webblad en fakture aangedui word bestaan nie meer nie of bly onbeantwoord. Volgens Monyeki is die 086-nommer wat op die webblad aangedui word nie MS se nommer nie, dit is eintlik ʼn ander maatskappy se nommer.

”Nadat daar aan Monyeki bevestig is dat die gesprek opgeneem word het hy Mogol Pos se verslaggewer gedreig en gesê hy gaan haar foon weggooi. Hy het gesê die koerant moet ʼn ander maatskappy gaan ondersoek en nie vir MS nie. Hy het geweier om sy selfoonnommer te verskaf.

Intussen het Mogol Pos gepraat met die eienaar van ʼn ander sekuriteitsmaatskappy in die dorp en volgens hom het Monyeki reeds aan die einde van Januarie 2018 vir hom gesê dat MS bankrot is. Hy wou van sy toerusting aan dié maatskappy verkoop en hy het na bewering gesê die werknemers ontvang nie meer salarisse nie. Volgens die eienaar van die ander maatskappy was die Balju reeds in Desember 2017 by MS se kantore om op hulle bates beslag te lê.

Volgens ʼn betroubare bron wat anoniem wil bly het MS aan die einde van Maart vanjaar aansoek gedoen vir ʼn likwidasie en het MS na bewering meer as R14,5 miljoen skuld. Hulle sowat 350 kliënte salig onbewus daarvan.

MS het nie gewapende reaksie nie, maar hulle is wel as sekuriteitsmaatskappy by SIRA geregistreer.

By navraag is bevestig dat, indien jy ʼn kliënt is van ʼn sekuriteitsmaatskappy en dit word op jou versekering aangedui en die maatskappy lewer nie meer ʼn diens nie, sal jy nie kan eis in geval van byvoorbeeld ʼn inbraak nie. Die makelaar sê die feit dat MS se kliënte nog nie kennis ontvang het dat hulle nie meer ʼn diens lewer nie neerkom op growwe nalatigheid.

Volgens Lorna Baloyi, ʼn direkteur van MS en voorsitter van Diatla, die moedermaatskappy, sal MS in April vanjaar briewe aan al hulle kliënte uitstuur om hulle in kennis te stel dat die maatskappy insolvent is. Tog betaal kliënte vooruit vir MS se dienste en die bankdebietorders wat op 1 April verhaal is, is vir dienste wat in April gelewer moes word.

Baloyi het Monyeki se gedrag teenoor Mogol Pos se verslaggewer as onaanvaarbaar beskryf.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.