Geliefde Gert groet vir altyd

LEPHALALE — Bekende en geliefde Gert Brits (34) is Saterdag 14 Oktober omstreeks 08:00 tragies dood nadat hy vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor en van die pad af gery het. Die voorval het ongeveer 10 km buite Lephalale naby De Kuile gebeur.
Gert het grootgeword in Lephalale en ná skool het hy as beroepsjagter by Johann Gey van Pittius by Fig Tree Safaris aangesluit.
Robyn, Johann se vrou, sê Gert het vandat hy die eerste dag by hulle huis ingestap het gevoel soos haar eie kind. “Ek het net drie dogters en hy is hulle boetie,” sê sy.
Robyn beskryf Gert as ʼn “gentle giant”. “Hy was ʼn buitemens met ʼn ondeunde sin vir humor en besonder lief vir sy gesin en familie. Hy het met sy sagte manier van dinge doen in ʼn mens se hart ingekruip,” sê sy.
Boodskappe van skok, medelye, simpatie, maar ook lofprysinge op Fig Tree Safaris se Facebook-blad spreek duidelik van die impak wat hy op mense se lewens gehad het en dat hy baie geliefd was – in Suid-Afrika, maar ook in die buiteland.
Van die boodskappe wat op Fig Tree se blad verskyn het: “I’m so incredibly sorry and saddened to hear this. Gert truly was a great man with a great gift. I’m just so glad Cindy and I had the honour to get to know him. He truly will be missed”.
“Agge nee, wat ’n groot skok om hiervan te hoor. Gert gaan baie gemis word. Ons het ’n wonderlike mens verloor”.
“He was a great guide and friend. If this is true the world has lost a great individual”.
“Gert was een van die gewildste en mees geliefde mense wat ek ooit sal ken”.
Tania, sy sus, sê: “Gert was lief vir die lewe en die mense om hom. Sy lag was aansteeklik en almal weet hy het altyd tyd gehad vir ’n kuiertjie. Mense het sy waarde raakgesien want hy was besonders en het uitgestaan. Ek was baie lief vir hom”.
Elna, Gert se ma, bedank almal wat sy lewe aangeraak het en wat vir hom lief en goed was.
Hy laat onder andere sy ma Elna, pa Gert, sus Tania, swaer Abrie, hulle kinders, en die Gey van Pittius-familie agter.
Die begrafnisreëlings was nog nie bekend teen druktyd nie. Hou Mogol Pos se Facebook-blad dop vir inligting rondom die begrafnis.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.