Gelukkig en tevrede — Bonsmarakoning Gerhard Brönn

LEPHALALE — Die 85-jarige Gerhard Brönn is veral bekend as stigter van die Bonsmara-telersvereniging. Volgens inligting word ván sy Matopi Bonsmarabulle se bloedlyne vandag nog gebruik.

Mogol Pos het Saterdag 1 Junie by die Veldskoenfees te Molalatau Lodge met dié merkwaardige man gesels. Hy is ook by die fees vereer as een van die senior boere vir sy bydrae in die landboubedryf.

“Paul Kruger het vir my pa gesê hy moet vir hom ʼn plaas koop naby die Matlabas en dit is hoe die plaas Kruispad in die familie gekom het.

Gerhard het B Agric (Baccalaureus in Agricultural Science) aan die Universiteit van Pretoria studeer en die graad met lof behaal.

Hy het nog voordat hy klaar studeer het al belanggestel in bonsmaras.

Na sy studies het hy twee bonsmarabulle by ʼn veiling in Bronkhorstspruit gekoop. Dié bulle moes sy sowat 260 koeie kon dek. Nog bulle is gekoop en daarna het hy elke keer as hy op ʼn veiling kom die beste teelmateriaal geïdentifiseer en gekoop – ongeag die prys.

Hy sê op ʼn stadium toe mens nog ʼn bonsmarabul kon koop vir R3 000, het hy reeds R10 500 vir ʼn bul betaal.

“Ek koop die bul, vat hom plaas toe en ek haal vir hom so 30 of 40 koeie uit. Hulle word elke dag bymekaargebring en hy dek hulle soos wat nodig is.

“Toe my kalwers deur die toets gekom het (ek was die eerste ou wat ʼn fase D-toets op die plaas gehad het, toe kry ek net soveel en meer vir my kalwers as wat ek vir die bul betaal het – ek het tot R16 000 per kalf gekry,” vertel hy met nostalgie in sy oë.

En so het Gerhard aangegaan met sy bonsmaraboerdery op die plaas Kruispad.

Ten spyte van bek-en-klouseer het hy op sy dag gespog met sowat 300 bonsmarakoeie.

Gerhard was vir 20 jaar met sy eerste vrou getroud waarna hulle geskei het.

Die pragtige Donna wat aan sy sy sit, is al die afgelope 41 jaar mevrou Brönn.

Gerhard vertel dat hy Donna vir die eerste keer raakgesien het toe sy die hoofsekretaresse vir die hoofbestuurder by die Mielieraad was en hy was daar as afgevaardigde van die Bonsmara-telersvereniging.

“Sy en ʼn vriendin het vir ons tee gebring en sommer die tweede dag daarna het ek vir haar ʼn briefie geskryf,” vertel hy.

Die koeël was deur die kerk.

Sy grond is later verkoop, want daar was niemand wat belanggestel het daarin om te boer nie. Tog maak hy steeds nou en dan ʼn draai om te sien of die nuwe eienaars mooi na die grond kyk.

Gerhard en Donna bly reeds die afgelope 21 jaar in Moreletapark in Pretoria.

“Ek is gelukkig en tevrede, ons het ʼn lieflike huis teen die gholfbaan, dit voel amper asof ons nog op die plaas is. Om net deur Ellisras te gery het sit ʼn mens heeltemal af, ons het in ʼn goeie tyd hier gebly en ons is op ʼn goeie tyd hier weg,” sluit hy af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.