Gemeenskap groet — Verdagte doen positiewe aanwysings op dieselfde dag

LEPHALALE — Na ononderbroke pogings om die verdagte vir die moord op dr Werner Emslie (55) op te spoor het lede van die Lephalale Polisietaakspan, Lephalale speurders, misdaadintelligensie en lede van die Heritage Protection Group (HPG), Petrus Moyo (27) Woensdag 18 Oktober in Frankfort in die Vrystaat opgespoor en gearresteer. Sy vriendin wat in Marapong woon het inligting aan die ondersoekspan verskaf.
Hy word ook verbind met onder andere huisbraak- en huisroofsake in Lephalale en sy DNS word verbind met ʼn huisroof in Frankfort waar ʼn bejaarde dame baie ernstig geslaan en aangerand is in September 2016. Hy is ʼn onwettige immigrant in Suid-Afrika en ʼn Zimbabwiese burger.
Moyo het Vrydag 20 Oktober, die dag waarop dr Werner Emslie se roudiens gehou is, verskeie uitwysings op die Emslies se plaas Waterval buite Lephalale gedoen. Volgens oud-kolonel Sakkie (Gawie) Louwrens van die HPG, verbind dié uitwysings hom positief met die moord op dr Werner.
Moyo het Vrydag 20 Oktober vlugtig in die Landdroshof in Lephalale verskyn op aanklag van huisbrake in Lephalale en die saak is uitgestel na Dinsdag 24 Oktober toe hy vir moord voorgekom het. Die saak is uitgestel na 31 Oktober vir verdere ondersoek. Moyo bly in aanhouding.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.