Geregtigheid vir Emslies

LEPHALALE — Petrus Moyo (27), die verdagte vir die moord in September 2017 op wyle dr Werner Emslie (55 ten tyde van die voorval) en die ernstige besering van dr Mariëtte Emslie (57) op die plaas Waterval buite Lephalale, het die afgelope twee weke in die rondgaande Hooggeregshof in Lephalale verskyn. Hy is Dinsdag 5 Februarie deur waarnemende regter Sydwell Sikhwari skuldig bevind op nege aanklagte waaronder moord, poging to moord, roof, betreding, huisbrake en diefstal en twee ontsnappings uit aanhouding.

ʼn Binneverhoor is verlede week gehou omdat Moyo beweer het dat die polisie hom by minstens twee gevalle hewig aangerand en gedreig het sodat hy sekere bekentenisse moes maak en uitwysings doen. Die eerste voorval was by ʼn dam naby Frankfort en die tweede voorval was by die stortingsterrein in Onverwacht.

Moyo is aanvanklik deur Frankfort Polisie gearresteer vir opsetlike saakbeskadiging, waarna Lephalale Polisie hom op 18 Oktober 2017 in Frankfort gaan haal het.

Tydens die hof-sitting op Donderdag 31 Januarie het Moyo se regshulpadvokaat, Desmond Nonyane, namens hom getuig die littekens op sy lyf is as gevolg van die polisie se aanranding.

Senior staatsaanklaer, advokaat Kobus Jacobs, het Moyo kruisondervra en daarmee bewys dat hy nie die waarheid praat oor die aanranding nie. Daar is ook uitgewys dat hy wel die dokument waar sy regte deur kolonel Elias Sekanka van Mokopane aan hom voorgelees is geteken het en sy regte verstaan het.

Waarnemende regter Sydwell Sikhwari het Donderdag 31 Januarie rondom 14:00 uitspraak gelewer dat Moyo se getuienis nie geloofwaardig is nie en verskeie bewyse het sy getuienis weerspreek. Die saak teen die polisie is verlede week Donderdag gesluit.

Die hofsitting is Maandag 4 Februarie hervat. Kolonel Sekanka het die gebeure soos wat dit gebeur het tydens Moyo se uitwysings aan die hof voorgelees. Kol Sekanka het gelees dat Moyo gesê het dat hy die uitwysings wil doen en dit onderteken het “to point out the place where me and my friends killed the farmer”. En verder: “… I agree that I did the pointing out out of my own free will”.

Aangesien Moyo ook verskeie huisbraaksake teen hom het, is dié getuienis ook Maandag na die hof ontbied om te getuig, maar Moyo het aangedui dat hy skuldig wil pleit op van die huisbraaksake teen hom en dié getuies is verskoon.

Hy het ook twee sake van ontsnapping teen hom – die eerste ontsnapping was in November 2017 vanuit die aanhoudingselle by Lephalale Polisie. Die tweede ontsnapping was in Augustus 2018 naby Marken. Hy het deur die dak van ʼn polisievoertuig ontsnap waarmee gevangenis van Lephalale na Polokwane vervoer is na ʼn hofverskyning.

Regter Sikhwari het Dinsdagoggend 5 Februarie aangedui dat hy die middag 13:00 sy uitspraak gaan lewer.

Dr Mariëtte Emslie en verskeie familielede was teenwoordig in die stampvol hofsaal waar haar en haar dogter, Barbara, se getuienis wat verlede week gelewer is, deur regter Sikhwari aan die hof voorgehou is. Hy het gesê dat dr Mariëtte ernstig beseer is in die voorval – sy is geskiet in haar sy en Moyo het haar van agter af met ʼn mes op haar boude gesteek. Hy het ook gesê dat dr Mariëtte steeds nie kan loop nie – ʼn direkte gevolg van die skoot wat hy geskiet het. Hy het uitgewys dat dr Mariëtte se getuienis geloofwaardig was, dat sy sterk was en dat hy nie glo dat sy een oomblik na die voorval nie by haar bewussyn of ontoerekeningsvatbaar was nie. Hy het ook die feit dat sy Moyo onmiddellik uitgeken het die dag van haar getuienis uitgesonder.

Nadat hy Moyo onskuldig bevind het op die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie asook die rig van ʼn vuurwapen het hy hom op nege ander klagtes skuldig bevind.

Die Emslie-familie en vriende is verheug oor die uitspraak. Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG) wat nou betrokke was by die ondersoek van die saak het gesê “dit is ʼn blye dag in HPG-geledere”.

Adjudant-offisier Oosthuizen wat die ondersoekbeampte in die saak was, het gesê hy is verheug dat Moyo na byna twee jaar uiteindelik skuldig bevind is. “Geregtigheid het geseëvier,” het hy gesê.

Die saak is Woensdag 6 Februarie voortgesit om ter verswaring te getuig en teen druktyd is bekendgemaak dat Moyo Donderdag 7 Februarie deur regter Sikhwari in die rondgaande hooggeregshof in Lephalale gevonnis sou word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.