Gert gee gholf gas

Gert van der Walt na afloop van Saterdag se gholfkompetisie

LEPHALALE – Die Kampioen van Kampioene-gholfkompetisie is Saterdag 2 Februarie op Mogolklub se gholfbaan oor 36 putjies beslis. Die gewone putjiespel is terselfdertyd gespeel.

Juan van Vuuren het as kampioen uit die stryd getree met ʼn telling van 136. Riaan Nel het tweede geëindig met 138 punte en gesamentlik in die derde plek was Natie Pretorius en Marnus van Rooyen met elk 141 punte.

Die putjiespelwenners was soos volg: Juan van Vuuren (A-Divisie), Natie Pretorius (B-Divisie) en Gert van der Walt (C-Divisie). Annemari Maloney was eerste in die damesafdeling en Marnus van Rooyen het in die juniorafdeling koning gekraai. Die brutowenner was Juan van Vuuren.

Gert van der Walt wat DV op 23 Mei vanjaar sy 75ste verjaardag vier is een van die oudste lede van Mogolgholfklub. Volgens Gertjie Pepler, klubkaptein, is Gert een van die lede wat seker die getrouste deelnemer is. “Ek het voor hom grootgeword, hy is lojaal, altyd netjies en ʼn voorbeeld vir almal by die klub,” sê Gertjie. Volgens Gertjie handhaaf Gert ʼn hoë standaard wat gholfetiket aanbetref en bly op hoogte van die gholfreëls. Ten spyte van Gert se ouderdom speel hy nie van die seniorafslaanbof nie, maar van die standaardbof af en loop hy meesal die 18 of 36 putjies.

Vra jy vir Gert nou waarom met dapper en stapper as hy kan gholfkarretjie ry antwoord hy: “Die liewe Vader het vir my twee bene gegee om mee te loop en dit hou my loopfiks en gesond.” Hy het ook groot lof vir die toestand van Mogolklub se gholfbaan.

Eerskomende Saterdag, 9 Februarie, bied Hoërskool Ellisras ʼn gholfdag by Mogolgholfklub aan. Gholfspelers kan gerus kennis neem en die skool ondersteun. 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.