Gesteelde voertuig teruggevind

LEPHALALE — Lede van die Lephalale Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Sondag 29 Julie ʼn gesteelde voertuig teruggevind nadat dit gesteel was vanaf ʼn kleinhoewe op die Witkoppad.

Volgens Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale GPF, het hulle Sondagoggend ʼn oproep ontvang dat daar by chalets op die kleinhoewe ingebreek is en dat voertuigsleutels, beddegoed en klere gesteel is. Die verdagtes het vermoedelik die bakkie vol gelaai met die gesteelde goedere en dit ʼn ent verder op hulle voertuig oorgelaai en gevlug.

Eloff sê hulle het dadelik ʼn oproep gemaak na die voertuigopsporingsmaatskappy sodat die opsporingstelsel in die bakkie geaktiveer kon word en hulle kon sien waar dit is. “Die voertuig is nie baie ver daarvandaan in die bosse gevind waar dit versteek was,” sê Eloff.

Eloff sê daar word vermoed dat dit dieselfde verdagtes is wat in die omgewing inbreek, maar hulle verander elke keer hulle modus operandi. Die spore stem ooreen met dié wat op vorige tonele gevind is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.