Goeie dienslewering nóú dwingend — en klante kry meer bedingingsmag

LEPHALALE — Met die dalende ekonomie in Lephalale, wat byna alle soorte besighede en praktyke beïnvloed, is dit terug na outydse besigheidsbeginsels soos goeie dienslewering.

Hierdie dwingende introspeksie lei reeds tot beter verhoudinge met klante. Besigheidslui en -bestuurders implementeer nuwe diensleweringstan-daarde. Vriendelikheid en behulpsaamheid word toenemend waargeneem, want ons (klant en verskaffer) is almal in dieselfde finansiële bootjie en “besparing” en “spaar” is die nuwe gonswoorde.

Binne hierdie veranderbare raamwerk waarin ons leef, en móét oorleef, is daar steeds positiewe inisiatiewe soos byvoorbeeld die Lephalale Going Green-aksie wat begin is deur Trudie Grobler se insig en verwagtinge oor wat gedoen kan word om die dorp skoner en mooier te kry. ʼn Inisiatief wat inslag gevind het en ondersteun word, juis omdat dié aksie ʼn verskil maak en nuuswaardig is en bly, al beleef ons “maer jare”.

Byna argaïese beginsels soos bêrekoop raak weer opsies wat meer sakelui oorweeg. ʼn Bewys dat die klant, as een van die partye in ʼn transaksie, wél ʼn sê het.  

In die maer jare onthou ons onbewustelik dié diensverskaffers wat in noodgevalle dáár was vir gewone huishoudings. As jou kleinskaalse klante in die oorvloedige tye op jou kon staatmaak, en jy hulle deurentyd as belangrik geag het, sal die klant nie in swaarder tye van diensverskaffer verander nie.

Om relevant te bly is dit ook belangrik om in die openbare “oog” te bly. In die advertensiewese is “groter” nie noodwendig beter as “meer gereeld” nie. Die trefkrag hang ook af van die platform vanwaar geadverteer word, hetsy dit ʼn advertensie, advertensie-insetsel of promosieartikel is.

En die klant is ʼn volwaardige klant – ongeag óf dit ʼn geklassifiseerde advertensie of volblad, volkleur advertensie is.

Voeg gerus “dwingend(e)/dwingendheid” tot jou woordeskat by, want dit behoort vir ons almal gonswoorde te word!

En soos hulle in Nederlands sê: beter één vogel in de hand dan tien in de lucht (=liever een beetje dan helemaal niets/ kleine concrete resultaten zijn beter dan grootse plannen) Bron: WOORDEN.ORG – NEDERLANDSE

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.